LifestyleRecipes

Sit gerus dié heerlike gourmet-mieliebrood vir die gaste voor

Met nasionale Braaidag (Vrydag 24 September) net om die draai het Die Pos vir Jan-Barend Kruger, ’n jong, dinamiese sjef gevra om sy gunstelingresep vir ’n heerlike bykos met lesers te deel.

Kruger het einde verlede jaar sy studies voltooi en is tans die sjef by Blu Bottle Bistro in Ladybrand in die Vrystaat. Hy het in 2015 aan Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong gematrikuleer.

“My idee van kosmaak is soos alchemie (toe hulle in die ou dae lood in goud probeer verander het). Ek probeer om my disse meer as die somtotaal van die bestanddele te maak,” het hy gesê.

Hy hou daarvan om met bestaande resepte te eksperimenteer en dan nuwe resepte te ontwikkel.

“Ek maak vir myself ’n goeie basis en verander dit soos die resep benodig. As ek ’n koekresep se hoeveelhede ken, kan ek van die meel met kakao vervang om dit ’n sjokolade-flair te gee. Of ek voeg meer suiker by om dit meer van ’n toffietekstuur te gee. ’n Mens kan selfs meer olie of vet byvoeg om die tekstuur klammer te kry. As jy weet wat die doel van elke bestanddeel is, kan jy enige eindproduk kry wat jy wil hê.”

Hy het sy heerlike “Gourmet-mieliebroodresep” met lesers gedeel.

Kruger het al vir verskeie bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Francois van Coke, Caroline Grace en Rocco de Villiers kos gemaak.

Gourmet-mieliebrood-bestanddele:

  • 1 koppie polenta (mieliemeel sal ook werk; die eindproduk sal net nie gekleur wees nie)
  • 2 koppies koekmeel
  • ½ ui fyn gesny
  • ½ blikkie heelmielie pitte
  • 1 eier
  • 60 ml olie
  • 1 eetlepel bakpoeier
  • 1 teelepel sout
  • 1 eetlepel suiker
  • 1 eetlepel vars knoffel
  • 1 teelepel growwe swartpeper

Metode:

  1. Week die polenta vir ’n halfuur in warm water om dit sagter te maak.
  2. Braai die uie in olie op ’n lae hitte totdat dit begin bruin word.
  3. Meng dan alle bestanddele saam in ’n groot bak, voeg water by totdat dit ’n taai deeg vorm. Voel vry om enige soutvleis, kruie of kaas na smaak by te voeg. (Persoonlik is ek gek oor spek (bacon), fetakaas en origanum-kruie in myne).
  4. Bak teen 180°C in ‘n gesmeerde oondpan totdat ‘n toetspen skoon uit kom. (Ongeveer 30 minute).
  5. Geniet met vars botter of roomkaas.

Related Articles

Back to top button