LifestyleLocal Lifestyle

Hartseer oor verval van eertydse glorie

Die historiese familiewoning in Modimolle van adv. JG Strijdom, die vyfde premier van die destydse Unie van Suid-Afrika (1954 tot 1958), het die afgelope vier jaar erg verwaarloos en bouvallig geraak.

Die huis, wat in die 1920’s gebou is, is in 1975 tot nasionale monument verklaar en as museum aan die publiek oopgestel.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, behoort die eiendom en perseel aan die nasionale departement van openbare werke wat beteken hulle is verantwoordelik vir die instandhouding daarvan.

Van Staden het gesê sy het onlangs verneem van die bouvallige toestand van die huis waarna sy die Limpopo departement van sport, kuns en kultuur genader het.

“Ongelukkig beskik hulle nie oor stoorplek vir historiese items nie en ons het die hulp van die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument in Pretoria ingeroep. Die munisipaliteit het ’n bruikleen-ooreenkoms met die stigting aangegaan om die items wat in die huis is, na Pretoria vir veilige bewaring te verskuif,” het sy gesê.

Die oorspronklike huis van adv. JG Strijdom in Modimolle is in 1920 opgerig en het ’n grasdak gehad.

Die museum was die afgelope vyf jaar gesluit. Die Erfenisstigting se span, onder leiding van Jaco Cilliers, afdelingshoof van erfenisbewaring, het op Woensdag 25 Augustus by die museum aangekom om al die historiese items en meubels te verpak sodat dit op Vrydag 27 Augustus na Pretoria vervoer kon word.

Dié huis is in 1948 in opdrag van adv. JG Strijdom deur die bekende argitek, Gerhard Moerdijk, na ’n Kaaps-Hollandse-boustyl verander en was vir baie dekades ’n imposante baken in Modimolle.

“Elke item is eers sorgvuldig skoongemaak voordat dit noukeurig verpak is. Sommige items was ongeskonde omdat dit in glasvertoonkaste bewaar is, maar ander items was erg beskadig,” het hy aan Die Pos gesê.

Skilderye, waaronder een oorspronklike Pierneef-skildery, is reeds tydens hul vorige besoek aan die museum verwyder.

Die Erfenisstigting is in 2002 as ’n maatskappy sonder winsmotief gestig en speel ’n belangrike rol in die bewaring van die Suid-Afrikaanse kulturele erfenisindustrie.

Die Strijdom-huis in Modimolle is die afgelope week ontruim en die vervalle dak is hier duidelik sigbaar. Die historiese erfenisstukke is verwyder en sal voortaan deur die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument in Pretoria bewaar word.

Volgens Cilliers poog die stigting om lede van die publiek bewus te maak van die bedreigde erfenis deur die behoud, bewaring en volhoubare benutting van erfenishulpbronne.

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die Erfenisstigting en Voortrekkermonument, het in ’n mediaverklaring gesê: “Om die Strijdomhuis se inhoud te red, gaan nie om munt hieruit te slaan, klein politiek of verwyte nie. Die fokus is saamwerk en handevat om ons erfenis te red. Hierdie is maar een verhaal van honderde klein museums wat swaarkry en tot niet gaan.”

Dirk de Wit, adjunk- direkteur van museums by Limpopo se departement van sport, kuns en kultuur, het aan Die Pos gesê hy het sowat vyf jaar gelede by die Strijdomhuis besoek afgelê.

In daardie tyd was alles mooi versorg met geen lekplekke in die dak of skade aan die plafon nie. Hy werk reeds 33 jaar by die departement en het ongeveer 10 jaar gelede ’n volledige inventaris van die huisinhoud laat opstel. Hierdie inventaris word nou deur die Erfenisstigting nagegaan.

Volgens De Wit het die Covid-19-grendeltyd se impak op toerisme, wat besoekers aan museums insluit, die spreekwoordelike doodskoot vir talle kleiner museums beteken.

Die Pos was op Woensdag 25 Augustus by die museum en het verstom gestaan oor die vervalle toestand van dié eens imposante woning. Die plafon in die voorportaal, formele eet- en sitkamer, studeerkamer en hoofslaapkamer is bykans heeltemal verwoes.

Die houtdakbalke is deur termiete gevreet en orals is waterskade sigbaar weens groot lekplekke in die dak. Brokstukke het gesaai oor die houtvloere gelê en ’n dik laag stof het alles bedek.

Merinowolmatte is onherkenbaar deur wind en weer verwoes. Groot krake in die mure het gewys dat die fondasie en leiklipdak oor die jare gesak het.

Die huis het oorspronklik ’n grasdak gehad wat in 1948 verander is toe die huis, in opdrag van Strijdom, na die neo-Kaaps-Hollandse voorkoms verander is. Hierdie veranderings is onder leiding van die bekende argitek, Gerhard Moerdijk, uitgevoer.

Van die interessante kultuurhistoriese items in die huis is onder meer ’n pragtige houtsneepyp van Paul Kruger, eertydse president van Suid-Afrika (1883 tot 1900). Strijdom se diplomatieke paspoort, silwer handtekening- stempel en skeerstelletjie het ook behoue gebly.

Daar is pragtige houtmeubels, ’n klavier en ’n antieke houtkas met ingeboude radio- en platespeler. Die borsbeeld wat in 1972 op Strijdomplein in Pretoria se middestad opgerig is en op onverklaarbare wyse in 2001 inmekaar getuimel het, is in 2003 hierheen verskuif.

Met die meubelvervoerwa wat Vrydag om die draai verdwyn het, wil ’n mens amper hoed in die hand staan en soos Jan FE Celliers sê: “Stil, broers, daar gaan ’n man verby, hy groet, en dis verlaas.”

Related Articles

Back to top button