LifestyleRecipes

Smaaklike bykosse vir suksesvolle braaidag

Die Waterberg het talle braaimeesters, maar dit is dikwels die bykosse wat die vleisbraai ’n hupstoot gee.

Erfenisdag word op Vrydag 24 September gevier en onder Suid-Afrikaners staan dié dag ook as “Braaidag” bekend.

Die Pos het vir Gerda Cordier, bobaaskok van die Roodepoort-hoewes buite Bela-Bela, vir twee resepte vir smaaklikse bykosse gevra.

Cordier is onder haar familie en inwoners bekend as iemand wat heerlik kan kook. Volgens haar is dié paptert ’n ou gunsteling en die wortelslaai lok altyd komplimente uit.

Paptert

Paptert-bestanddele:

• Vier koppies mieliemeel
• 1½ teelepel sout
• 3 liter water
• Een groot rooirissie
• Een groot ui
• Een eetlepel knoffel
• Italiaanse kruie
• Olie
• 500 g kaas (verkieslik Cheddar)
• Twee blikkies tamatie- en uiesous
• Paprika

Metode:
1. Gooi water en sout in ’n pot en bring tot kookpunt. Voeg die meel by. Roer aanhoudend om klonte te voorkom. Prut op ’n lae hitte vir ongeveer 20 minute en laat afkoel.
2. Kerf uie en rooirissie in klein blokkies en braai in olie tot sag. Voeg laastens die knoffel en kruie by (knoffel brand maklik).
3. Meng die uiemengsel deur die pap, vorm papballe en plaas in gesmeerde oondpan.
4. Gooi blikkies tamatie- en uiesous bo-oor die papballe en strooi gerasperde kaas bo-oor. Gooi paprika oor en bak vir 15-20 minute by 180°C.


Ingelegde wortelslaai

Bestanddele vir ingelegde wortelslaai:

• Twee bossies wortels, grof gerasper
• Een soetrissie, in klein blokkies gesny
• ’n Bossie gekapte sprietuie (kap wortel en stingel saam)
• Twaalf knoffelhuisies, in ringe gesny
• Agt rooirissies, ontpit en opgesny
• Vier groot, ferm tamaties en agt klein tamaties in blokkies gesny
• Sout en peper na smaak
• Enige braaispeserye na smaak
• 125 ml Kookolie
• 750 ml Witasyn
• 500 ml Witsuiker

Metode:
1. Meng al die bestanddele saam en laat staan vir geure om te ontwikkel.
2. Skep die mengsel in lugdigte houers of glasflesse en bêre in die yskas.
3. Die gereg sal 3-4 maande lank lekker vars bly in die yskas.
4. Bedien saam met braaivleis of as slaaigereg by ’n Sondagmiddagete.

Related Articles

Back to top button