LifestyleRecipes

Klein botteltjies met vuurwarm skop!

Wynand en Anita Claassens boer sedert 2015 voltyds op hul plaas Middelplaats net buite Modimolle.

Met die boerdery en twee woelwaterdogtertjies jonger as vier, het hulle behoorlik hul hande vol. Wynand (43), wat eiehandig hul plaashuis gebou het, se hande staan vir niks verkeerd nie en sy vrou, Anita (36), skrik ook nie vir ’n uitdaging nie.

Hulle het ’n jaar gelede ’n cayenne-rissieplantasie met behulp van Christian Bornman, Anita se jonger broer, aangeplant.

Die egpaar het verlede jaar die eerste oes vars rissies verpak en op die Tshwane-varsproduktemark probeer verkoop.

Volgens Anita was dit nie die moeite werd nie en moes hulle inderhaas ’n ander plan maak om die vars rissies te verwerk. Sy het begin oplees oor rissiesouse en verwante produkte en besef dit is ’n beter opsie met meer moontlikhede. ’n Paar proeflopies later het hul gewilde Chilli Garlic Crunch ontstaan met fyngekapte rissies en knoffel van hul eie plaas.

Volgens Anita is dit heerlik op toebroodjies, hoender- en rooivleisgeregte. Dit word bemark onder die naam Teleios Die volgende produk wat hulle aangedurf het, was ’n rissiesous met ’n matige brand en ’n “warmer” opsie vir diegene wat hou van ekstra skop.

Volgens Anita kan die rissiesous saam met ’n wye verskeidenheid kosse van hamburgers met aartappelskyfies, pizza, pastageregte, hoender- en rooivleisgeregte geniet word.

Alles word sedert Februarie vanjaar deur die egpaar self op die plaas verwerk, gekook en gebottel. Dit word op naweekmarkte in die omgewing van Modimolle, Bela-Bela tot Mookgopong verkoop, asook by uitgesoekte padstalletjies en deli’s. Die nuutste produk is fyn gedroogde rissievlokkies wat in 30 g speserybottels verkoop word.

Die Claassens vertel hulle het die afgelope jaar baie geleer oor rissies en rissieprodukte.

Volgens navorsing is dit capsaïcine, die aktiewe bestanddeel in rissies, wat die brandgevoel gee wanneer dit geëet word.

In werklikheid kan dit nie die slymvliese of vel brand nie, maar dit stuur seine na die brein wat ’n mens se smaak-, reuk- en tassintuie oortuig dat dit brand. Dit kan vergelyk word met pepperment wat ’n koel gevoel in die mond laat, maar nie werklik koud is nie.

Cayenne-rissies bevat vitamiene A, B6, C, E en K, asook riboflavien, mangaan, kalium en anti-oksidante.

Daar is heelwat navorsing wat die gesondheidsvoordele van cayenne-rissies ondersteun. Kenners glo dit kan help met die verligting van pyn, die metabolisme versnel, bloeddruk verlaag, help om die spysverteringstelsel gesond te hou en help met gewigsverlies.

Die kombinasie met knoffel verbeter die gesondheidsvoordele, want knoffel is ’n natuurlike antibiotika en uitstekende kiembevegter, reken sommiges.

Die egpaar se plaas was oorspronklik deel van Wynand se oupa, Arrie Claassens, se plaas wat hy in die 1940’s gekoop het. Sy seun, Andries (Wynand se pa) het ná sy dood die helfte van die plaas geërf.

Aangesien Andries ’n voltydse professor in grondkunde by die Universiteit van Pretoria was, het hy en Wynand net naweke geboer en die plaas uitgebrei.

Hulle het tans ’n gemengde boerdery van rissie- en knoffelplantasies, Bonsmarabeeste, ’n klein Dexter-stoet en ’n klein skaapkudde saam met bloubuffelgraslande wat gebaal en verkoop word.

Related Articles

Back to top button