Frikkies bult hul spiere op die krieketveld

Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) se eerste krieketspan het op Saterdag 21 Augustus weer hul kolwe opgetel vir hul eerste wedstryd in maande.

Skolesport het sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie verlede jaar grotendeels agterweë gebly.

Vanjaar kon talle atlete egter weer volstoom inval en oefening in hul onderskeie sportsoorte hervat.

Dit is baie duidelik dat die leerders van HFM nie stilgesit het nadat dié inperkings verslap is nie.

Die eerste krieketspan het op Saterdag 21 Augustus gasheer gespeel vir Hoërskool Pietersburg (PHS) by Amandelbult se krieketveld.

Die tuisspan het die wedstryd geopen en ’n telling van 211 lopies in 30 boulbeurte aangeteken wat dit moeilik gemaak het vir die besoekers om in te haal.

Hendré Wolmarans, die HFM-spankaptein, het uitgestaan in die wedstryd nadat hy 69 lopies van slegs 50 balle gemoker het.

PHS se span het verbete teruggeveg, maar is uiteindelik ná 27 boulbeurte uitgeboul vir 117 lopies.

Die tuisspan het die wedstryd met 94 lopies beklink.

Related Articles

Back to top button