MotoringSport

Gimnaste presteer by kompetisie

’n Paar gimnaste van ’n bekende gimnastiekklub in Mookgophong het op Saterdag 19 Junie goed presteer tydens die Tuks Trampolien-kompetisie by die Universiteit van Pretoria.

Volgens Landie van Wyk, afrigter van die klub, is sy baie in haar skik met die prestasies van die gimnaste.

Hulle het tydens die kompetisie teen sewe ander klubs uit Gauteng, waaronder die Tuks-klub, deelgeneem. Die Naboomspruit-klub was die enigste deelnemer uit Limpopo.

“Die ander deenemers was regtig baie sterk mededingers. Ek is verheug oor die uitslae, want dit was ook die eerste trampolienkompetisie in byna twee jaar waaraan ons kon deelneem,” het sy gesê.

Die klub het in 2017 ontstaan en aangesien gimnastiek nie ’n kontaksport is nie, kon hulle voortgaan om te oefen tydens die pandemie.

Van Wyk het gesê daar word met elke oefensessie streng by die Covid-19-regulasies gehou word.

Elke gimnas se temperatuur word gemeet en die apparaat word ná elke oefening deeglik ontsmet. Sewe van die gimnaste het elk twee goue medaljes in hul onderskeie ouderdomme en afdelings verwerf.

Diė deelnemers is Shay-Lee van der Merwe, Waldo Vosloo, Megan Cary-Smith, Jorja Louw, Kylie Viviers, Divan Marais en LJ Bothma.

Verskeie ander het ook goue medaljes verwerf in een afdeling waaraan hulle deelgeneem het.

Altesame 19 goue medaljes, sewe silwer- en drie bronsmedaljes het saam huis toe gekom.

Van Wyk kon nie genoeg vertel hoe trots sy op elkeen van die gimnaste is nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button