Ligloop vir slange wat skuiling soek teen koue

Inwoners moet ligloop vir slange, het Theunis Victor, slangkenner en -vanger van Modimolle aan Die Pos gesê nadat hy en Louis Daniel (LD) Pienaar binne twee dae twee swartmambas en ’n wipneuskobra gevang het.

Victor het aan Die Pos vertel hy is op Sondag 18 April uitgeroep na die nywerheidsgebied in Modimolle om ’n slang te verwyder wat in ’n werker se kamer, teenaan ’n fabriek, gewaar is.

“Ek het die slang gevind waar dit onder die werker se bed ingeseil het. Dit was ’n wipneuskobra van ongeveer 1,2 m,” het Victor gesê.

Wipneuskobras is baie gevaarlik weens hul neurotoksiese gif (senugif). Kort daarna is hy uitgeroep deur inwoners van die Negester-aftreeoord, digby die Klein Kariba-vakansieoord, waar iemand ’n swartmamba in ’n stapel brandhout gesien inseil het. Die mense het die slang vanaf ’n veilige afstand dopgehou totdat Victor en Pienaar op die toneel opgedaag het.

“Daardie swartmambawyfie was ’n bielie van ongeveer 2,5 m,” het Victor aan Die Pos vertel.

Die volgende middag op Maandag 19 April is Victor se hulp weer ingeroep om ’n slang op ’n plaas net buite Modimolle te vang.

“Dié swartmamba is gelukkig betyds raakgesien toe dit vanaf die kombuis dieper die plaashuis ingeseil het,” het Victor gesê.

Die inwoners het die huis se venters en deure dig toegemaak en buite gewag totdat Victor en Pienaar opgedaag het.

“Hulle het die slang se bewegings deur die kamervensters probeer volg en gesien hoe dit bo-oor een van die beddens seil en daarna onder ’n bed in ’n ander slaapkamer gaan skuil het. Dit is daar waar ons die swartmambamannetjie van 2,7 m gevang het,” het hy vertel.

Al die bogenoemde slange is op veilige plekke in die natuur vrygelaat. Inwoners word gemaan om op die uitkyk te wees vir slange wat steeds bedags aktief is en hul graag tuismaak in knus plekke soos stapels brandhout, hope tuinvullis en binne-in geboue.

Volgens Victor bly slange heeljaar aktief in die Waterberg- en Bosveld-omgewing, want die matige winters verhoed dat hulle hiberneer.

“Slange is gedurende die wintermaande minder aktief, maar mense moet liefs op hul hoede wees en stewels en langbroeke dra wanneer hulle in die veld gaan stap. Pofadders lê graag in die lang gras en sal byt wanneer hulle verras word. Die meeste slangbyte is onder die knie; dus bied stewels en kamaste goeie beskerming,” het hy gesê.

“Mense wat graag met hul honde gaan stap, moet uiters versigtig wees, want die hond sal instinktief die eienaar(s) wil beskerm deur die slang aan te val. Ongelukkig is die kanse goed dat Wagter nie die voorval sal oorleef nie. Leer honde om slange liefs uit te los, het Victor gesê.

  • Inwoners word versoek om nie self te probeer om slange te vang nie, maar liefs die hulp van ’n opgeleide slangvanger in te roep. Bel gerus vir Theunis Victor by tel. 082 823 6910 of LD Pienaar by tel. 072 475 6414. Let daarop dat ’n minimale uitroepkoste gevra word wat aangewend word vir brandstofuitgawes.

Related Articles

Back to top button