LifestylePets

Die kleine Vicky skrik nie vir ’n gróót operasie nie

Personeellede van die Kranskop-dierekliniek in Modimolle het op Woensdag 17 Maart ’n delikate operasie op ’n miniatuur Yorkshire-terriër (Yorkie) uitgevoer toe vier blaasstene tydens ’n operasie verwyder is. 

Die fyne Vicky is die hondekind van Jenny Roets van Modimolle. Die Pos het met dr. Marina Bredell, die veearts wat die operasie uitgevoer het, gesels.

“Die Yorkie is ’n 10-jaar oue tefie wat net 2 kg voor die operasie geweeg het. Ons vermoed die stene het oor etlike maande in haar blaas gevorm en baie ongemak veroorsaak. Ek kon dit tydens die fisieke ondersoek voel, maar ons het ook X-strale geneem om seker te maak dat stene slegs in die blaas gevorm het,” het sy gesê.

Bredell het verduidelik:

“’n Klein snytjie word tydens die operasie in die buik en deur die blaas gemaak. Daar is altesame vier stene verwyder — twee stene van ongeveer 25 mm in deursnee, een van ongeveer 20 mm in deursnee en een klein steentjie. Ek was verstom oor die grootte van die stene in so ’n klein hondjie, maar sy het vinnig aangesterk en is ’n dag later stertswaaiend huis toe waar sy ’n spesiale voorgeskrewe dieet moet volg.”

 

Vicky die Yorkie.

 

Bredell het verder vertel dat honde en katte meestal mineraalstene in die blaas ontwikkel en nie in die niere soos by mense nie.

“Wanneer die dier se urine te alkalies word weens hul dieet, kan sekere minerale begin kristaliseer en oor ’n tydperk van maande ontwikkel in blaasstene. Ons sien meer ouer diere met blaasstene, maar daar is uitsonderlike gevalle van baie jong honde of katte wat blaasstene ontwikkel het weens ’n genetiese lewer- of niersiekte.”

Volgens Bredell word groter stene gewoonlik by teefhonde en wyfiekatte gevind. Dit word gereeld suksesvol tydens operasies verwyder.

“By mannetjieskatte en reunhonde bly die kristalle klein — amper soos growwe seesand wat kan lei tot die verstopping van die blaaspypie. Dit kan ongelukkig nie deur middel van ’n operasie verwyder word nie en die behandeling is ’n langer, meer komplekse proses,” het sy aan Die Pos verduidelik.

“Die opvallendste simptome van blaasstene is die behoefte om kort-kort ’n draai te moet loop en dan net ’n paar druppels te lewer. Die urine het gewoonlik ’n rooi tot bruin skakering met ’n sterk reuk. Mannetjieskatte sukkel gewoonlik om enigsins te urineer en moet gewoonlik ’n noodoperasie ondergaan om te keer dat urine nie terugstoot tot in die niere nie,” het Bredell verduidelik.

Volgens navorsing deur die vervaardigers van topgehaltehonde- en katkos is ’n gebalanseerde dieet wat genoeg proteïene bevat die beste manier om die vorming van mineraalstene te voorkom.

Kietsie en Woef sal beslis baatvind by die beste gehalte droë honde- of katkos wat hul eienaars kan bekostig.

Kontak gerus die veeartse in die omgewing om meer uit te vind oor die beste dieet vir jou troeteldiere.

Related Articles

Back to top button