MotoringSport

Warmbad-rolbalklubspelers ryg prestasies in ondanks pandemie

Lede van die Warmbad-rolbalklub in Bela-Bela het besluit die Covid-19-pandemie gaan beslis nie hul sportgeesdrif blus nie.

Faan Rossouw, klubpresident, het aan Die Pos gesê die klub is baie trots op die spelers se toekennings en het groot verwagtinge vir die seisoen wat voorlê.

“Lede het puik presteer tydens die onlangse Limpopo-enkelskampioenskap in Polokwane. Jan Greeff het die mans- veterane-afdeling gewen en Hettie Rossouw die vroueveterane-titel. Larita Rossouw is as naaswenner in die ope-afdeling vir vroue aangewys.”

Hettie is bekend as speler van formaat. Sy het tydens die Warmbad-kampioenskap die titel as enkelsklubkampioen onder die vroue verower en Tollie Venter was die wenner in die mansafdeling.

“Ons klub het verlede naweek ook as algehele wenner van die Pienaarsrivier Derby — tussen die Lynnwood-klub van Pretoria en Warmbad — weggestap. Ons het met 129 punte teenoor Lynnwood se 114 punte met die louere weggestap,” het Rossouw gesê.

“Hierdie is werklik ’n besondere prestasie, want die Lynnwood-klub is een van die sterkste klubs in Pretoria met ’n ledetal van meer as 200 spelers in vergelyking met Warmbad se 50.”

Die Warmbad-klub is met reg trots op vyf spelers: Faan Rossouw, Eugene Gililand, Antoinette Serfontein, Hettie Rossouw en Larita Rossouw wat vanjaar vir die Limpopo-span gekies is.

“Provinsiale spanne ding jaarliks mee om die gesogte Inter-distriktrofee. Dié toernooi moes ongelukkig weens die Covid-19-pandemie gekanselleer word,” het Faan Rossouw gesê.

Related Articles

Back to top button