EntertainmentLifestyle

Kokanje se musiekaand uit die boonste rakke

Die kultuurkomitee van die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle het op Vrydag 20 November ’n uithaler musiekkonsert aangebied.

Die bykans 120 gaste, wat die uitvoering onder streng Covid-19-maatreëls bygewoon het, is vermaak deur die Cantabilé Trio wat onder die briljante leiding en begeleiding van Ansie van Niekerk staan.

Die trio bestaan uit Yvonne Lombaard (sopraan), Schalk Vorster (tenoor) en George Linde (bariton).

Hulle tree reeds drie jaar saam op. Die klanke van Kerstyd het die eerste deel van die program ingelui met gewyde liedere van oor die hele wêreld.

Dit was vir die gehoor baie moeilik om, op versoek van die kunstenaars, nie spontaan hande te klap ná elke gevoelvolle vertolking nie.

Die tweede gedeelte van die program was gevul met ’n keurspel van vrolike klaviermusiek, meesterlik uitgevoer deur Van Niekerk wat die begeleier van die Vrystaatse-jeugkoor, orrelis en musiekonderwyser was.

Sy het haar talent in Modimolle tot voordeel van die gemeenskap aangewend en is nou betrokke by talle uitvoerings in die dorp en omgewing.

Die program is afgesluit met gunstelingstukke uit operas, operettes en filmproduksies.

Die gehoor het hul waardering met ’n staande ovasie betuig en het hul dank uitgespreek teenoor die organiseerders wat ná ’n inperking van bykans nege maande hierdie topproduksie op die planke kon bring.

Related Articles

Back to top button