Brief: Goeie en slegte nuus van misdaadsyfers

Die polisie behoort meer aandag te skenk aan die voorkoming hiervan.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront-Plus-leier, skryf:

Die jongste misdaadsyfers vir die derde kwartaal van 2020 wat op Vrydag 13 November bekend gemaak is, is bemoedigend met sogenaamde kontakmisdaad wat met 11,6% afgeneem het.

Hierdie syfers moet egter beoordeel word in die konteks van die inperkingstydperk waar mense meestal tuis was.

’n Groot bron van kommer is egter die toename in rooftogte by woonhuise en die skerp toename in plaasmoord teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

Rooftogte by woonhuise is die misdaad wat die meeste deur die publiek gevrees word. Dit het met ’n kommerwekkende 8,5% toegeneem.

Dit is uiters traumaties vir mense om in die veiligheid van hul eie woonhuis oorval en beroof te word en baie mense word beseer tydens hierdie soort misdaad. Die polisie behoort meer aandag te skenk aan die voorkoming hiervan.

Wat plaasmoorde betref, is daar ’n kommerwekkende toename van 62,5% teenoor verlede jaar in dieselfde periode. Die VF-Plus vra daarom opnuut dat plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad verklaar word. Die minister van polisie, Bheki Cele, het wel gesê dat plaasmoorde en –aanvalle, soos ander geweldsmisdaad, nou ook as prioriteitsmisdaad beskou sal word aangesien dit ’n ernstige misdryf is wat dringende optrede vereis. Veediefstal sluit hierby aan.

Die VF-Plus verwelkom ook optrede teen korrupte lede in die polisie deur die nasionale kommissaris van polisie, genl. Khehla Sitole. Die afdanking van die adjunk-polisiekommissaris, lt.genl. Bonang Mgwenya, is daarom goeie nuus.

Die polisie moet seker maak dat die slegte appels uit sy eie geledere verwyder word. Dit sal daartoe bydra dat misdaad in die toekoms meer doeltreffend bestry word.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button