EntertainmentLifestyle

Rocco bekoor gehoor met Jim Muller-keurspel

Die gewilde en veelsydige klavierspeler Rocco de Villiers het op Saterdagaand 17 Oktober die eerste akkoorde sedert die instel van die Covid-19-maatreëls in die KunsteGrot in Thabazimbi gespeel.

Hy het die gehoor uit die staanspoor betrek met sy visuele vertoning van kleur — nie net deur die staaltjies wat hy vertel het nie, maar ook die uitrustings en kostuums wat hy vir die vertoning gekies het.

Soos belowe het die meesterlike vertolking van Jim Muller se komposisies die gehoor betower.

Hy het ook werke van ander bekende komponiste soos Nico Carstens, Ollie Viljoen, Taffie Kikillus, Hendrik Susan en Hansie Roodt gespeel.

Van De Villiers se eie komposisies, waaronder die geliefde Liewe Hemel Liewe Aarde, Kortbroek Langkouse en Nooit te Laat het groot byval by die gehoor gevind.

Die konsertgangers was behoorlik uitgehonger vir vermaak ná die grendeltyd en het telkens in spontane toejuiging losgebars.

Die volgende vertoning by die KunsteGrot is op Donderdag 19 November wanneer Michelle Botha en Neels van Jaarsveld Die Grapmakers op die planke bring.

Die regie word behartig deur die bekende Lizz Meiring en beloof om ’n produksie uit die boonste rakke te wees. Bespreek vroegtydig aangesien kaartjies weer beperk sal wees ingevolge die Covid-19-veiligheidsmaatreëls.

Vir besprekings bel vir Rita Volschenk by tel. 083 744 8559. Die vertoning begin om 19:00.

Bring gerus ’n piekniekmandjie met versnaperinge om gesellig saam te kuier. Intussen is daar reeds verskeie vertonings op aanstaande jaar se kalender.

Die eerste is op 13 Februarie met Chris Else en dan volg Matthys Roets op 13 Maart en op 18 April kry die Doringdraadduwwels ’n beurt.

Related Articles

Back to top button