EntertainmentLifestyle

Rocco kom Thabazimbi toe

Met die aankoms van die lente ruik ’n mens al die reën in die lug en jy weet die ergste koue is verby.

Die “koue” inperkings van die Covid-19-pandemie is ongelukkig steeds met ons.

Een ligpuntjie is dat die gewilde Rocco de Villiers, wat reeds by verskeie geleenthede gehore in Thabazimbi vermaak het met sy meesterlike klavierspel, die kunstenaar sal wees wat die kultuurstilswye op dié dorp verbreek.

Die KunsteGrot se eerste vertoning sedert Maart skop op Saterdag 17 Oktober af.

Hoewel daar tans ingevolge maatreëls slegs 100 gaste per vertoning mag wees, sal dit steeds ’n aand met briljante musiekuitvoering wees. Die gewone veiligheidsprotokol sal gehandhaaf word.

De Villiers het tydens sy laaste vertoning in die KunsteGrot aan die gehoor ’n voorsmakie van Jim Muller se musiek gegee en beloof hy kom terug met ’n uitgebreide program van dié goue treffers. Hy het ook op Sondag 21 Junie tydens sy Vadersdagkonsert ’n keurspel van Jim Muller se werke gespeel.

Dit was de Villiers se eerste aanlynkonsert.

Immergroen treffers van Nico Carstens soos “Die Klokkiewals”, “Zambesi”, “Warm Snare” en “Lentewals” van Hansie Roodt word afgestof, blink gepoets en kry nuwe lewe onder dié bekwame pianis se vlytige vingers. Hy speel ook sy eie treffers soos “Liewe Hemel Liewe Aarde”, “Kortbroek Langkouse” en “Nooit te laat”.

Hy beloof om die gehoor op ’n reis van nostalgie te neem wat hulle al hul sorge sal laat vergeet. Voeg daarby ’n flambojante en fyn uitgevatte kunstenaar met ’n besondere humorsin en dit beloof om ’n wonderlike aand te wees.

Die vertoning begin om 19:00. Gaste moet betyds ’n tafel en sitplek bespreek en kan gerus hul eie piekniekmandjie saambring. Kaartjies kos R150 per persoon terwyl pensioentrekkers en skoolleerders slegs R100 betaal. Bel vir Rita by tel. 083 744 8559 om plek te bespreek.

Related Articles

Back to top button