EntertainmentLifestyle

Gewilde Strijdomteater weer oop

Inwoners van Mookgophong was opgewonde om weer op Saterdag 3 Oktober ’n konsert in die dorp te kon bywoon toe die Strijdomteater by Hoërskool Hans Strijdom sy deure heropen het.

Konsertgangers kon elkeen ’n mandjie met eet- en drinkgoed saamneem. Streng maatreëls is gehandhaaf en daar was slegs 40 plekke beskikbaar.

Konsertgangers was gaande oor die talentvolle kunstenaars JJ Clarke, Samantha Clarke en Jaco Strydom.

“ Dit was kos vir die siel,” het Marina Gravett, adjunkhoof van die Hansies, aan Die Pos gesê.

JJ en Samantha is broer en suster wat reeds sedert hul kleintyd musiek maak. Hulle het in Welkom in die Vrystaat grootgeword. Albei het in verskeie kore en vokale ensembles ge- sing wat die Vrystaatse Jeugkoor en die Vrystaatse Universiteitskoor insluit. JJ is ’n nguniboer in die Mookgophong-omgewing en ’n bekende skilder.

Van sy werke is by verskeie bekende galerye beskikbaar. Strydom werk vir ’n bekende farmaseutiese maatskappy in Johannesburg. Samantha is ’n sopraan en JJ ’n kontratenoor. Die Clarke’s en Strydom ken mekaar sedert universiteitsdae en het saam in die universiteitskoor gesing. Die twee manne het saam met tien ander talentvolle mans Die Bult se Boys-sanggroep gevorm en verskeie suksesvolle uitvoerings gelewer.

Die groep fokus nie net op klassieke musiek nie, maar lewer graag uitvoerings van ligte musiek.

Die konsert in Mookgophong het ’n kykie gegee na die musiek van 1930 tot 1940. JJ het homself onderskei as uitstekende klavierbegeleier.

Dit was voorwaar ’n aand met nostalgiese en romantiese liefdesliedere uit daardie era. Musiek uit die pen van Irving Berlin, Bert Kaempfert, Nat King Cole en Edith Piaf het die gehoor bekoor.

“Die drie kunstenaars beplan om sommer gou ’n opvolg optrede te hou en ons sien baie uit daarna,” het Mariette Lindeque, een van die gaste, gesê.

Related Articles

Back to top button