Home & GardenLifestyle

Die Waterberg is in oranje getooi

Boslelies (clivias) sorg hierdie tyd van die jaar vir skouspelagtige oranje kleure in talle dorps- en plaastuine.

Daleen Brooks woon al nege jaar in Agtstestraat in ’n huis met een van die mooiste tuine in Mookgophong met van die mooiste boslelies in die omgewing.

Sy het haar versameling plante mettertyd vergroot en spog nou met baie skaars spesies onder die meer as 30 verskillende spesies in haar tuin.

Volgens Brooks het boslelies die afgelope dekade baie gewild geraak en wetenskaplikes regoor die wêreld het ’n verskeidenheid nuwe kleure en blomvorms deur middel van kruisbestuiwing gekweek.

“Daar is honderde verskillende soorte clivias beskikbaar, waaronder spesies met ’n klokkie-agtige blom en ander wat ’n kelkagtige blom het,” het sy aan Die Pos gesê.

Boslelies is geharde plante wat min water en aandag nodig het, maar verkies om in koelte geplant te word om te verhoed dat die blare deur die son beskadig word. Baie min siektes tas die plant aan en vermeerdering geskied vegetatief of deur sade te plant.

’n Cliviaplant blom eers vier jaar nadat die sade geplant is. Baie groter dorpe en stede het cliviaklubs en daar word jaarliks cliviaskoue gehou.

“Hierdie cliviatuin is my trots. Ek sien elke jaar daarna uit dat die plante begin blom,” het Brooks geesdriftig en trots gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button