Brakkie gaan op vyfdag-avontuur

Sy het waarskynlik die opening ontdek en saam op ’n verkenningstog gegaan.

’n Gesin van Bela-Bela kon huil van blydskap nadat hul 11-jarige dwergkees (“toy pom”) ná vyf dae met hulle herenig is. Peanut het op Donderdag 27 Augustus weggeraak. Francis Eyberg, sakevrou, en haar dogter, Jackie, het aan Die Pos vertel hulle en die honde het sommer gou in die omgewing aangepas nadat hulle van die Wes-Kaap na die Sonskyndorp verhuis het.

Die gesin woon in Reitzstraat. “Een van ons honde, ’n Jack Russel, het gate onder ons heining gegrawe, deurgekruip en speelmaats in die straat gaan soek. Ons het hom telkens terug huis toe gebring en die gate in die heining herstel, net om ’n dag of wat later uit te vind hy het ’n nuwe opening gemaak.

Peanut, ’n baie manhaftige hondjie wat rotte vang en vreemde katte verjaag, is altyd in en om die huis. Sy het waarskynlik die opening ontdek en saam op ’n verkenningstog gegaan.

Op die eerste dag dat Peanut verdwyn het, het die gesin mense in die straat en selfs veiligheidsbeamptes voorgekeer om te hoor of iemand nie dalk hul geliefde bolletjie wol gesien het nie. Dit was al donker toe hulle nog steeds rondgery en oral gesoek het.

Hulle het die aand met swaar harte gaan slaap, net om die volgende dag met hernude ywer verder te soek. Verskeie mense het laat weet dat hulle Peanut iewers gewaar het, maar hulle kon haar net nie opspoor nie. Teen die derde dag het ’n eiendomsagent vir Francis laat weet Peanut is by die sirkelsentrum in Oosthuizenstraat gewaar. Die oomblik toe die weldoener vir Peanut nadergeroep het en wou optel, het die hondjie die hasepad gekies in die rigting van die R516-pad na Thabazimbi.

“Almal in die huis was teen hierdie tyd baie somber en moedeloos. Hoewel niemand dit gesê het nie, het almal aan die groot trokke gedink wat gereeld daar ry. Ons het die personeel by Forever Resorts gevra om asseblief op die uitkyk te wees vir ons hondekind,” het Francis gesê.

“Toe iemand skakel om te sê hulle het haar by die eerste grondpad in die Noodhulp-omgewing gesien, het ons alles net so laat staan en ons daarheen gehaas, maar sy was weer nêrens te sien nie. Ons het maar net bly glo sy sal terugkom huis toe.”

Die gesin het bykans ’n week later ’n oproep ontvang met dié woorde: “This is the call you’ve been waiting for.”

Forever Resorts se personeel het vir Peanut ná vyf dae in hul perdestalle gevind. Die verligte en tranerige gesin is met Peanut, toegedraai in ’n kombers, by die oord se ingang herenig. Hulle is verstom dat Peanut dae lank die gevaar van swaarvoertuie, wilde diere en die koue aande oorleef het.

“Dit was ’n emosionele vyf dae vir ons almal,” het Jackie vertel.

“Maar Peanut is ook geraak deur haar ontberinge en is baie senuagtig en onrustig. Dit is amper asof sy aan post traumatiese stres ly.”

Die gesin beoog om hul heining te verbeter sodat hul diere nie weer die erf sonder toesig kan verlaat nie. Die gesin is baie dankbaar teenoor almal wat help soek het.

Hulle sê die welwillendheid van Bela-Bela se inwoners is verstommend. ’n Spesiale woord van dank aan die personeel van Forever Resorts wat haar opgespoor het, het hulle gesê.

Exit mobile version