Vier sterf in ongeluk op R516

Vier mense, waarvan een ’n jong kind was, het op Vrydag 14 Augustus tragies gesterf nadat twee voertuie op die R516-pad tussen Bela-Bela en Rooiberg in ’n botsing reg van voor betrokke was.

Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die ongeluk het teen ongeveer 08:00 die oggend plaasgevind.

’n Sementtrok was in die rigting van Thabazimbi onderweg toe ’n sedanvoertuig, met vier insittendes, glo ander voertuie in die rigting van Bela-Bela verbygesteek het en reg van voor teen die sementtrok gebots het.

Die ongeluk het tussen Leeupoort en Mabula plaasgevind, het Mojapelo gesê.

Die kind is uit die voertuig geslinger en die sedanvoertuig en die trok het aan die brand geslaan. Drie volwassenes in die sedanvoertuig het doodgebrand.

Die trokdrywer het ligte beserings opgedoen. Nooddienswerkers het die kind op die toneel dood verklaar.

Die pad was vir die grootste deel van die oggend vir verkeer gesluit terwyl die ondersoek en opruiming gedoen is. Mojapelo het gesê die uitkenningsproses van die oorledenes word vertraag omdat die drie volwassenes asook die voertuig heeltemal verbrand het.

Die provinsiale verkeersafdeling het in ’n verklaring gesê die ongeluk word voorlopig toegeskryf aan roekelose en/of nalatige bestuur. Die polisie ondersoek intussen ’n saak van strafbare manslag.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button