EntertainmentLifestyle

Jannie du Toit kom kuier in Thabazimbi

Die bekende Afrikaanse sanger, Jannie du Toit is al die afgelope 50 jaar by die Afrikaanse musiekbedryf betrokke.

Kunsliefhebbers van Thabazimbi en omgewing sal op Saterdag 14 Maart die voorreg hê om dié deurwinterde sanger by die Kunstegrot te sien optree saam met Chanie Jonker, ’n meester op die trekklavier.

Hulle aanbieding Die eggo van jou oë, is ’n fees van musiek waarmee dié twee musikante in 2017 deur Europa getoer het.

Die gelyknamige album bevat liedjies soos onder meer ’n Liedjie vir jou, Madeleine van Jacques Brel, verskeie Nederlandse liedjies en meer gewyde liedere soos Somerkersfees.

As lid van die folkgroep, Trilogie, het Jannie in 1973 onder die aandag van die Afrikaanse luisteraars gekom en in 1975 het hy sy TV-debuut as deel van die destydse SAUK se TV-toetsuitsendings gemaak.

Hy het die regsberoep gedurende die vroeë 80’s verlaat om sy musiekloopbaan uit te bou.

Hy het later die karbaretverhoog saam met Laurika Rauch betree met die gewilde produksie Van Berlyn tot Babsfontein. Vanaf 1986 het hy vir 25 jaar saam met die pianis, liedjieskrywer en verwerker Christa Steyn gewerk. Sy is in 2012 ná ’n lang kankerstryd oorlede.

Die opvoering in die Kunstegrot begin om 19:00 en kaartjies kos R130 per persoon en R80 vir pensioentrekkers en skoliere. Voorafbespreking kan by Rita by tel. 083 744 8559 gemaak word.

Konsertgangers kan ’n eie piekniekmandjie bring om ’n aand vol nostalgie in dié mooi plattelandse teater te beleef.

  • Die Pos publiseer in aanstaande week se koerant ’n berig wat die storie agter die totstandkoming van die Kunstegrot op dié dorp vertel.

Related Articles

Back to top button