Hoe nou gemaak met ’n pap wiel?

Die meeste Bos­veld­manne is hope­lik ver­troud met die gebruik van ’n dom­krag en sal sommer gou die­gene kan by­staan wat dalk langs die pad ’n wiel moet ruil.

Diegene wat nie hulp langs die pad kry nie, moet egter die vol­gende in­gedagte hou wanneer ’n motor opge­lig moet word om ’n wiel te ruil: Dit is belangrik om te weet waar ’n motor se dom­krag en spaar­wiel gebêre word.

Sommige motors se dom­kragte is só versteek dat dit haas on­moont­lik is om dit op te spoor, veral tydens die ver­warring en onge­mak wat er­vaar word wan­neer ’n voer­tuig langs die pad gaan staan. Hou klein kinders ook weg van die dom­krag.

Maak eerstens seker dat die motor wat gelig word nie in die pad van ander verkeer staan nie en dat die opper­vlak gelyk is. Kyk ook dat die voer­tuig gelyk en stewig gehys kan word.

Die handrem moet opge­trek en die motor in eerste rat wees. Outo­matiese voer­tuie se rathef­boom moet in die “P” posisie wees.

Bakkies en motors met ’n soliede leer­raam kan op enige deel van die raam opge­lig word, maar die meeste motors het deesdae kepies naby die wiele waar­teen die domkrag gedruk moet word. Hierdie kepies word dikwels met ’n pyltjie aan­gedui.

Die skêrtipe dom­krag wat saam met motors voor­sien word, is uitsluit­lik vir nood­ge­bruik en wanneer daar tuis op gereelde grondslag onder ’n voer­tuig inge­skuif word, is die beleg­ging in ’n stewige trollie­tipe dom­krag die moeite werd.

Onthou om altyd eers die wiel­moere effens los te maak voor­dat die motor opge­lig word en laat die motor eers sak voor­dat die moere weer behoor­lik vasge­draai word.

Exit mobile version