Ondersteun Renosterdag by skool

Waterberg Academy in Vaalwater nooi die hele gemeenskap om ’n bewusmakingsdag teen renosterstropery op Donderdag 19 September by die skool by te woon.

Wêreld Renosterdag word op Sondag 22 September gehou om bewustheid te skep vir die bedreiging wat dié skaars reuse in die gesig staar.

Organisasies wat renosters in die Waterberg beskerm, sal die dag bywoon en teenstropingsvertonings wat reaksie-eenhede en lug- en honde-eenhede se werk vertoon, sal gesien kan word. Daar sal ook “Save the Waterberg Rhino”-items te koop aangebied word. Toegang is gratis.

Die polisie sal teenwoordig wees op die bewusmakingsdag.

“Die beskerming van renosters en die vastrek van stropers loop hand-aan-hand met die beskerming van landelike gemeenskappe,” het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, aan Die Pos gesê.

Volgens die organisasie Save the Waterterg Rhino is daar sowat 2 000 renosters in die Waterbergstreek. Dit is die derde grootste bevolking in die land. Die gebied word gereeld deur stropers geteiken wat renosterhoring aan die internasionale mark, meestal in Asië, verskaf. Verskeie organisasies werk saam om teenkanting teen dié stropery van die Waterberg se renosters te bied. Save the Waterberg Rhino het sy oorsprong in 2012 gehad en het ’n hegte werkverhouding met renostereienaars, privaat reservate, Sanparke en privaat veiligheidsorganisasies.

Waterberg Academy is ’n trotse lid van die Wildlife and Environment Society of South Africa (Wessa) en een van net ’n handvol skole landwyd wat die silwer dekadetoekenning en -status in 2018 ontvang het. Die skool fokus op ekovriendelike aktiwiteite vir hul leerders.

Die dag begin om 10:00. Die skool is buite Vaalwater op die R33-pad, sowat 300 m van die Spar-sentrum.

Related Articles

Back to top button