Bejaardes beoog groot opskop

Die Naboom Tuiste vir Bejaardes se jaar­likse basaar, wat deur die kerke en gemeen­skap van Mook­go­phong aange­bied word, beloof om van­jaar weer vol pret en plesier te wees.

“Elke jaar sodra die bruid­jies van die Bosveld hul eerste spier­wit bloei­sels vertoon, begin die laaste reëlings vir die groot gemeen­skaps­basaar van die Tuiste vir Bejaardes,” het Toeks Eras­mus, een van die organi­seerders, aan Die Pos gesê.

Inwoners van Mook­go­phong en om­liggende dorpe word genooi na hierdie geleent­heid wat op Sater­dag 7 Septem­ber by die tehuis plaas­vind. Die tafels sal kreun onder die heer­like kerrie-en-rys, poe­dings, koeke, klein­koekies, beskuit, brode, vet­koek met of sonder vleis en wors­brood­jies. Daar sal ook ’n wit olifant-stalle­tjie, pragtige naald­werk, goed­koop vleis en ander lekkernye te koop wees.

Tussen­deur sal daar ’n plate­joggie wees met vrolike skoffel­musiek.

Volgens Erasmus sal ’n ver­skeiden­heid groepe optree. Dit sluit die plaas­like lyn­dansers in en ’n prettige rolstoel­resies wat deur Paul van der Schyff gereël word. “Hier­die is ’n komiese geleent­heid wat mense nie moet mis­loop nie,” het sy gesê. Die motor­fiets­brigade sal ook hul opwag­ting maak om hand by te sit en aan die waag­halsige ouer mense die geleent­heid bied om weer die wind in hul hare te voel.

Alle orga­nisa­sies in die dorp word betrek — van die rolbal­spe­lers tot die boere­vereni­gings, kleuter­skole, kerke, lyn­dansers, inwon­ers en familie­lede van in­woners.

Die voor­skoot­kompe­tisie is een van die hoogte­punte van vanjaar se fonds­insame­ling. Deel­nemers kan ’n voor­skoot maak teen slegs R20 per inskry­wing en die kans staan om R500 te wen. Deel­nemers kan besluit of die voor­skoot vir die tehuis geskenk word of nie.

Die basaar skop om 08:00 af. Daarna volg die rolstoel­wedren om 09:00, die lyn­dansers om 10:00 en 11:00 en die motor­fiets­ryers om 12:00.

Skakel gerus die Naboom Tuiste vir Bejaar­des by tel. (014) 743 0685 vir bydraes, navrae of inskry­wings­vorms vir die voorskoot­kom­petisie.

Exit mobile version