Dis nie die ánder mense op die pad nie; dis óns

Die Nissan NP300 Hard­body-reeks bied moont­lik die beste waarde vir geld in ons lewen­dige bakkie­mark.

In baie gevalle is die immer­groen Nissan goed­koper as sy Chinese mede­din­gers.

Tog het daar ver­lede jaar omtrent ’n media­bom gebars nadat Global NCAP besluit het Afrika het veil­iger motors nodig. Hope kritiek en slegte pu­blisi­teit het op die Nissan NP300 se swak verto­ning in die bot­sing­toets gevolg. Die Nissan het nul sterre vir vol­wasse veilig­heid gekry nadat die kajuit en veilig­heid­stelsel se struk­tuur meege­gee het en bykans geen ener­gie tydens die bot­sing kon absor­beer nie. Die stuur­kolom het in een stuk gebly en gevaar­lik in die bors van die pop­bestuur­der gestamp wat in die geval van ’n mens waar­skyn­lik tot lewens­gevaar­like bese­rings sou lei.

Verskeie artikels, berigte en web­werwe het sensasie aange­blaas met stel­lings dat sulke gevaar­like motors nie op ons paaie hoort nie en dat inter­nasio­nale maat­skappye soos Nissan glad nie toe­gelaat behoort te word om sulke “doods­kiste” van die hand te sit nie.

Aan die ander kant moet ons die vraag vra of ons on­veilige motors werk­lik die enigste pro­bleem is. Arrive Alive se web­tuiste sê menslike gedrag is die grootste oorsaak van onge­lukke.

Padgebrui­kers moet deur­gaans op die uitkyk wees vir bestuur­ders wat onver­skillig optree. Dronk, nalatige, onbe­voegde, haastige en arge­lose mense skuif daag­liks agter stuur­wiele in. Baie meer voer­tuie is deesdae onpad­waardig en ons paaie se swak toe­stand is nog faktore wat in ag geneem moet word.

Tel gerus hoeveel verkeers­oortre­dings ’n mens daagliks waar­neem of hoeveel reëls jy dalk self oor­tree. Hoe gereeld is daar vrag­motors sonder ligte op die snel­weë of word vrag­motors op ’n soliede lyn verby­gesteek?

Sommige ver­keers­beamp­tes wat wet en orde moet hand­haaf, swig voor om­koop­betal­ings. Hoe dikwels sien ’n mens nie dat daar alko­holiese verver­sing so in die ry gebruik word nie of hoe­veel leë bottels uit ’n kajuit ge­laai word nie?

Ons kinders word daag­liks aan onge­duldige en arro­gante optrede bloot­gestel waar hulle by skole op- en afge­laai word. Dié waar­des word by hulle vas­gelê.

Om verant­woorde­lik, versig­tig en veilig te be­stuur en by die pad­reëls te hou, bly ons verant­woorde­lik­heid en kan nie op motor­ver­vaardigers afge­skuif word nie.

Solank as wat ons as pad­ge­bruikers nie ons gedrag ver­ander nie, sal selfs die meeste aantal veilig­heid­sterre nie die slag­ting op ons paaie kan beperk nie.

Exit mobile version