Modimolle se lugruim gaan ’n skouspel wees

As vliegtuie, heerlike ontbyt en skouerskuur met rugby- en vlieglegendes jou ding is, moenie die tiende jaarlikse Taildragger Fly In by Modimolle se vliegveld misloop nie.

Die byeenkoms, waaraan tussen 150 en 200 vliegtuie van regoor die land deelneem, is een van die grootste invlieg­byeenkomste in Afrika, het Mariëtte Nicholson van die Nylstroom-vliegklub gesê. Dit vind op Saterdag 13 Julie vir die laaste keer in Modimolle plaas.

Vlieg­gees­drif­tiges kan hulle verkyk aan vlieëniers se vliegvernuf en die vliegtuie, helikopters en sweeftuie van naderby beskou. Toegang is gratis.

Die wêreldklas akrobatiese vliegkampioen, Jason Beamish, woon die dag by en besoekers is welkom om vlieggeselsies te kom aanknoop. Oud-Springbokrugbyspeler Bakkies Botha sal ook die dag bywoon en sal sy heerlike hamburgers en ewe bekende boere-wors te koop aanbied.

Hoe­wel die by­een­koms be­kend staan as die Tail­drag­ger Fly In, is daar ’n ver­skei­den­heid vlieg­tuie, heli­kop­ters en mikroligte vlieg­tuie wat ook deelneem. Daar sal ook tuisgeboude vliegtuie wees wat invlieg en van naderby bekyk kan word.

Die vlieë­niers ding mee om verskeie toe­ken­nings soos bes­te lug­man­skap, die oud­ste stert­wiel- en oud­ste tuis­ge­bou­de vliegt­­uig. Daar is ook ’n prys vir die vrou wat haar vlieg­tuig eers­te by die by­een­koms land.

’n Bielie van ’n ontbyt word om 08:00 teen slegs R50 aangebied. Dit sluit in pap en sous, maalvleis, spek en eiers, sampioene en gebraaide tamaties. Vanaf 10:00 tot 16:00 is boereworsrolle teen R35 beskikbaar. Daar sal ook hamburgers beskikbaar wees teen R40, soetgoed vir die kinders, sowel as koffie- en koeldrankstalletjies.

Die Nylstroom-vliegveld is op die R101 net buite die dorp in Mookgophong se rigting geleë. Vir meer inligting, bel vir Christo Bredenkamp by tel. 082 494 3132.

Exit mobile version