LifestyleRecipes

Heerlike sop vir daardie koue dae

Die Waterberg is bekend vir sy gematigde winters, maar dit beteken nie dat die Bosveld nie ook maar soms ’n byt in die lug het nie. Die Pos het by ’n paar personeellede gaan kers opsteek oor watter lekker sopresepte hulle het om die koue te besweer.

AARTAPPELSOP WAT HEIMWEE BRING

Ek het dié resep vir ’n romerige aartappel-, spek- en kaassop by ’n vriendin gekry wat dit aanvanklik op Solidariteit se webwerf raakgeloop het, sê Ronel du Plessis, tandarts in Modimolle.
Ek het die resep so hier en daar aangepas. Dié geurige sop is trooskos wat winterherinneringe herroep van koue hande wat om ’n warm koppie sop gevou is en wat ’n mens jare lank sal bybly.

Bestanddele:

  • 6 groot aartappels
  • 1 pakkie wit uiesoppoeier
  • 250 ml room
  • 500 ml gerasperde cheddarkaas
  • 1 eetlepel vars gekapte of droë pietersielie
  • 250 g spek
  • Sout en peper na smaak

Metode:

  1. Kook die aartappels tot sag. Hou die water waarin dit gekook is eenkant.
  2. Sny die spek in stukkies en braai dit bros.
  3. Maak die aartappels in ’n voedselverwerker fyn. Meng die soppoeier met een koppie water. Skep die fyngemaakte aartappels terug in die water waarin dit gekook is en voeg die aangemaakte sop by. Voeg die houer met room by en roer dit deeglik.
  4. Voeg net die helfte van die kaas by en as die sop te dik is, verdun met nog water. Dit moet ’n dikkerige sop wees.
  5. Geur dit met sout en peper en verhit weer oor stadige hitte.
  6. Plaas ’n bietjie kaas onderin ’n koppie voordat die sop ingeskep word.
    Sit terug en geniet die ete!


MAKLIKE MAALVLEISSOP

Lorrain Loots, wat Die Pos se Vaalwater-nuus hanteer, sê hierdie maalvleissop is heerlik vullend en neem nie ure om voor te berei nie. Vir iemand wat gou ’n heerlike warm dis op die tafel wil sit, is hierdie resep die antwoord.

Bestanddele:

  • 500 g maer beesmaalvleis
  • Sout na smaak
  • Peper na smaak
  • ½ koppie rou gort (stampkoring)
  • 1 pak vars sopgroente
  • 3 aartappels
  • 1 pakkie “minestrone” soppoeier

Metode:

  1. Braai maalvleis tot gaar in ’n groterige pot.
  2. Strooi sout en peper oor (onthou soppoeier het self baie sout in).
  3. Maak pot driekwart vol water (ongeveer 2 liter). Gooi gort by. Bring tot kookpunt.
  4. Rasper wortels, skil en sny aartappels en raap in blokke. Skil, kerf en kap die res van die groente op en voeg by. Draai hitte af sodat die water in die pot nog steeds stadig kook.
  5. As die groente sag en die gort gaar is, verpulp alles met ’n elektriese menger.
  6. Maak soppoeier eers aan met klein hoeveelheid water en voeg by die sopmengsel in die pot.
  7. Laat sop vir 10 minute stadig kook.
  8. Bedien met vars roosterbrood.

ASPERSIESOP VERDRYF WINTERKOUE

Om dié heerlike aspersiesop te maak, is nie goedkoop nie, maar die eindproduk sal jou sommer gou laat vergeet van die koste daarvan, sê Marietjie Steenkamp, wat Die Pos in Mookgophong verteenwoordig.

Bestanddele:

  • 1 pakkie opgekapte spek (bacon)
  • 1 groot ui, opgekap
  • 1 blikkie ingedampte melk (Ideal melk)
  • 2 pakkies Knorr dik wituiesoppoeier
  • 1 blik aspersiestukke, groen of wit (groenes lyk net mooier)

Metode:

  1. Braai die spek en uie tot goudbruin.
  2. Gooi die blikkie melk en nog 2 blikkies kookwater by.
  3. Meng die 2 pakkies soppoeier met ’n ½ koppie melk of water en voeg by die uie, spek en melkmengsel in die kastrol. Laat die sop stadig kook terwyl jy dit bly roer. Dit brand maklik aan.
  4. Sodra die sop dik word, kan jy die blikkie aspersies met water en al byvoeg.
  5. Prut goed deur. Voeg sout en peper na smaak by.
  6. As die sop te dik is (soos witsous), verdun met gewone melk of water.
  7. Dien op met varsgekapte Italiaanse pietersielie oor en gooi ’n bietjie room oor om dit af te rond.
  8. Geniet met croutons of ’n vars broodjie.

LEKKER LENSIESOP MET BEESVLEIS

Ek het onlangs hierdie sopresep van Ina Paarman raakgelees en dit al ’n paar keer gemaak, vertel Bea Emslie, Die Pos se bestuurder. “My gesin is versot daarop. Dit is heerlik vullend en ek bedien dit met vuurgebakte ciabattabrood wat ek by die Pretoria-boeremark koop.

Bestanddele:

  • 400 g beesskenkel
  • 45 ml olie
  • 2 uie (gekap)
  • 10 ml kerriepoeier
  • 1,5 liter water
  • 45 ml beesaftrekselpoeier van Ina Paarman
  • 4 groot ryp tamaties, geskil en gerasper
  • 30 ml songedroogte tamatiepesto
  • 10 ml suiker
  • 250 g rooi lensies
  • Ina Paarman se rissie-en-knoffelgeursel
  • ’n Paar vars koljanderblare (gekap)

Metode:

  1. Braai die vleis in die olie bruin en skep op ’n bord uit. Braai uie in dieselfde kastrol tot sag. Voeg die kerriepoeier by en braai vir 30 sekondes. Voeg die water, aftrekselpoeier, tamaties, tamatiepesto, suiker, lensies en bruingebraaide vleis by en verhit tot kookpunt.
  2. Prut baie stadig oor lae hitte vir ongeveer twee uur. Geur na smaak met rissie- en knoffelgeursel en voeg ’n handvol koljander by.
  3. Roer deur en skep in warm bakkies. Drup ’n bietjie olyfolie oor en rond af met ekstra vars koljander. Genoeg vir vier tot ses mense.

ALMAL KAN DIÉ SOP MAAK

Lesley Barnard van Die Pos se uitlegkantoor sê hulle gesin het ’n verspotmaklike en vinnige ertjiesopresep wat heerlik is.

Bestanddele:

  • 2 uie
  • 1 kg spek (bacon)
  • 2 pakke bevrore ertjies
  • 6 groot geskilde aartappels
  • 1 houer Cup a Soup-soppoeier (ertjie- en hamgeur)

Metode:

  1. Kerf die ui en braai in ’n braaipan saam met die gesnipperde spek in ’n klein bietjie olyfolie.
  2. Skil die aartappels en sny in blokkies en kook tot sag in stoompot met een liter water.
  3. Voeg die ertjies by en verpulp met ’n stokmenger of voedselverwerker.
  4. Voeg nou die uie en spek by en roer goed.
  5. Maak die drie pakkies soppoeier wat in die houer is, aan met ’n bietjie water en voeg by.
  6. Prut stadig terwyl dit vir ongeveer vyf minute lank geroer word.
  7. Sout en peper kan na smaak bygevoeg word. Onthou die soppoeier het reeds sout in.
  8. Die hoeveelheid water kan verskil afhangend van hoe dik die sop moet wees.
  9. Bedien stomendwarm met vars geroosterde saadbrood.

Related Articles

Back to top button