Verslag bied insig oor pryse
Die Kinsey-verslag het die afgelope bykans 30 jaar ’n betroubare en insiggewende verslag geword wat ’n goeie aanduiding gee van die onderhoudskoste van nuwe motors in Suid Afrika.
Van 2019 sal die verslag bekend staan as die AA Kinsey-verslag. Die jongste verslag het die afgelope week verskyn.
Die verslag neem ’n mandjie onderdele, saamgestel uit normale diens, herstel en bakwerkonderdele en verkry die koste van so ’n mandjie onderdele by handelaars. Die pryse is nie noodwendig dieselfde by alle handelaars nie en is ook nie die pryse wat deur die betrokke vervaardiger voorgeskryf of aanbeveel word nie.
Motorryers wat onderdele wil koop, moet liefs kwotasies by meer as een handelaar in hul omgewing verkry. Tog bied die verslag lekker syfers om te vergelyk en kan ’n redelik akkurate voorspelling gemaak word oor ’n spesifieke model se bekostigbaarheid wanneer daardie model buite waarborg en diensplan versien of herstel moet word.
Die Nissan NP200 is tans die enigste ¾ ton bakkie wat nuut in ons mark beskikbaar is en daarom verantwoordelik vir ’n gesonde deel van enkelkajuitverkope in Suid-Afrika.
Hierdie gewilde bakkie se mandjie was nie net die goedkoopste onder die bakkies nie, maar ook algeheel die goedkoopste van alle nuwe motors wat in Suid-Afrika beskikbaar is.
Die Datsun Go het ook besonder goed gevaar, terwyl die Hilux en Fortuner 2.8 baie mededingend is.
Die volledige verslag kan by www.kinseyreport.co.za besigtig word.
* Paul Smith is ’n motorliefhebber, gesinsman en eienaar van die Spur op Bela-Bela.