LifestyleRecipes

Verjaag die winterkoue met sop en wyn

As die winter sy koue vingers uitsteek, ruil Bosvelders allerhande doepas uit oor hoe ’n mens warm kan bly.

In hierdie deel van die land moet ’n mens egter erken dat inwoners eintlik, wat die koue betref, lig daarvan afkom. Kyk net na die boerseuns wat, hoewel hulle koulik staan en hande vryf, steeds in kortbroeke rondloop en die kinders wat ongetraak kaalvoet buite speel. Maar as die sonnetjie eers laatmiddag verflou, dan gryp selfs die hardebaarde na ’n baadjie en skoene.

Sop en wyn help nie net om die koue te verdryf nie, dit skep ook ’n gesellige kuier-atmosfeer — veral as almal onder ’n kombersie sit en vir die winter wegkruip.


Blitsige tamatiesop:

Braai ’n gekapte ui en ’n knoffelhuisie in ’n bietjie olie tot dit deurskynend is.

Voeg twee blikkies gekapte tamaties (410g elk) by en geur met sout en peper en klein bietjie origanum en basiliekruid. ’n Knypie gerookte paprika maak dit ekstra lekker. Laat dit vir sowat vyf minute lank prut en maak dan fyn in ’n voedselverwerker. Voeg 250 ml room of melk by en roer goed deur.
Saam met worsrolletjies of knoffelbroodjies met kaas is dit heerlike warm trooskos.

Geurige gluhwein:

Hoewel warm wyn vreemd mag klink is dié Duitse drankie ideaal vir koue wintersaande.

Plaas vier glase rooiwyn in ’n pot (dit hoef nie duur bêrewyn te wees nie). Sny ’n lemoen in die helfte en sny twee 1 cm breë skywe daaruit. ’n Dungeskilde strook skil kan ook van een van die helftes gesny word vir ekstra lemoengeur. Druk die res van die lemoen se sap saam met die wyn in die pot uit. Druk twee naeltjies in die lemoenskywe en voeg dit by die wyn. Voeg ’n kaneelstokkie en een en ’n halwe eetlepel suiker by en verhit die wyn stadig. Voeg meer suiker by as dit soeter verkies word. Laat dit ongeveer 20 minute lank prut en dan ’n klein rukkie afkoel. Skink dit bietjie-vir-bietjie in die wynglase sodat die glas nie kraak nie. Geniet die kits warm gevoel.

Related Articles

Back to top button