Lifestyle

Pensioentrekkers se ‘laaste voertuig’ kan die beste wees

Dit is raadsaam om vroegtydig vir ’n motor te begin spaar of die voertuig so ’n rukkie voor aftrede reeds te koop.

Die aankoop van ’n motor vir pensioentrekkers is ’n groot besluit wat behoorlik oordink behoort te word.

’n Maandelikse pensioen is bedoel vir oor-lewing, nie om ’n motorpaaiement te dek nie. Die beste motor bly ’n betaalde motor.

Dit is dus raadsaam om vroegtydig vir ’n motor te begin spaar of die voertuig so ’n rukkie voor aftrede reeds te koop.

Daar word selde “nuwe” geld ná aftrede verdien en daarom moet die aanwending van ’n enkele groot bedrag deeglik beplan word. Dit sal egter ook nie deug om die heel goedkoopste motor te koop nie. Bly liefs by ’n groot, gevestigde vervaardiger. Hulle motors is meestal betroubaar en daar is handelaars op byna elke dorp wat kan help met onderdele of kundige herstelwerk.

Dié soort voertuie verloor ook minder waarde, wat handig te pas sal inkom wanneer daardie “laaste motor” toe nie die “laaste” een was nie.

’n Outomatiese motor is duurder, maar die gerief maak die bykomende koste die moeite werd. ’n Motor wat effens hoër is, maak ook die in- en uitklimslag makliker namate die jare sy tol op knieë, heupe en skouers eis. Aan die ander kant is baie lae voertuie ook nie prakties vir diegene wat al aanstap in jare nie.

Motors wat dit moontlik maak om daardie groot avontuur aan te pak, is pret, maar wees maar versigtig vir brandstofverbruik. Die 4×4-modelle is swaarder op brandstof terwyl dit nie regtig nodig is vir die meeste voëlkykuitstappies nie.

’n Diensplan is belangrik en kan verleng word om gemoedsrus te verleen en tot betroubaarheid by te dra.

Die meeste nuwe motors sluit ’n jaar of wat se padbystand in, maar teen ’n nominale koste kan AA (Automobile Association) lidmaatskap sterk aanbeveel word.

Onthou egter altyd dat spaargeld heelwat minder rente verdien as wat skuld kos.

  • Paul Smith is ’n motor­lief­heb­ber, gesins­man en eienaar van die Spur op Bela-Bela.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button