Die Pos se motorman dink met nostalgie oor die dae van veldflieks
Inryteaters was ’n plek waar gesinne saam kon uitgaan en waar party gesinne selfs ... wel ...begin is.
Vir diegene wat hou van gebotterde springmielies, motors, sappige burgers, flieks en “wine gums” was daar eens op ’n tyd ’n plek waar ’n mens dit alles kon vind.
Inryteaters was ’n plek waar gesinne saam kon uitgaan en waar party gesinne selfs … wel …begin is. Daar was ’n klimraam onder die grootskerm en die fliek is onderbreek met ’n pouse. Om die lang rye by die plat geboutjie in die middel, wat as kafeteria gedien het, te vermy, was dit beter om nie vir die pouse te wag om proviand aan te vul nie.
Die hobbels waarteen motors moes parkeer sodat almal die grootskerm kon sien, was die lekkerste plek om fiets te ry. My pa het gewoonlik eers die staanplek se luidspreker getoets voor ’n finale besluit oor die gekose plek geneem is. My ma wou nie langs rokers staan nie. Die venster moes op ’n skrefie oop vir die blikkerige luidspreker om teen te haak en om die wasem van die warm springmielies van die vensters af te hou.
Ek het prentjies geteken in die kondensasie op die ruite. Die skyfies, of slaptjips soos ons dit geken het, was olierig en die uie op die burgers was vars, ferm en soet. Goedkoop tamatiesous en die dikste viennas was die kombuis met sy helderkleurige kappie se spesialiteit.
Coke is uit ’n masjien in ’n papierglas getap en het soos nektar van die gode gesmaak. Bokdrolletjies en ’n draairoomys met ’n “Flake” in was sommer pure bederf.
Bakkies is agteruit teen die hobbels geparkeer en dan is matrassies en komberse agterop die bak gegooi. Op warm aande is die matrasse sommer op die teer gelê. Die buitelug was swaar met die reuk van asyn oor warm slaptjips en boerewors wat braai. Die geluid van vrolike kinders wat speel en lag het bygedra tot ’n genotvolle gesinsuitstappie.
Ag please daddy, won’t you take us to the drive-in?