Lifestyle

Geen tabak vir 24 uur

Druk daardie stompie dood op die wêreldwye Geen Tabak-dag op Vrydag 31 Mei, vra die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa).

Dié organisasie doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om die rookgewoonte te staak en sê dit is die hoofoorsaak van ongesonde longe, longkanker en meer as 20 verskillende soorte kankers.

“Die Suid-Afrikaanse-jeug-risikogedragsopname van 2011 het bevind dat 28% van leerders van gr. 8-11 (meer as 80% van hulle is 14-18 jaar) erken dat hulle gerook het of nog steeds rook. Die jeug word om die bos gelei deur hulle te laat glo dat die rook van ’n hookah of die gebruik van ’n hubbly bubbly nie skadelik is nie en dat e-sigarette ’n veilige alternatief vir die rook van tabakprodukte is,” het Elize Joubert, hoof- uitvoerende beampte van Kansa, gesê.

Navorsing bewys egter dat die gebruik van ’n hookah dieselfde gesondheidsgevare as die rook van sigarette inhou en die veiligheid van e-sigarette is nog nie wetenskaplik bewys nie.
Blootstelling aan nikotien beïnvloed ook die breinontwikkeling van tieners en kinders op ’n negatiewe wyse.

Die wêreldwye gesondheidlas weens die rook van tabakprodukte is verantwoordelik vir meer as twee derdes van sterftes aan longkanker en is die rede waarom een in vyf gevalle van mense wat rook met tuberkulose (TB) gediagnoseer word, sê die organisasie.

Selfs al is iemand ’n nie-roker, kan tweedehandse rook van mense wat rondom hulle rook, die nie-roker se risiko vir longkanker verhoog. Rook en tweedehandse rook kan ook onaktiewe TB-infeksies aktiveer.

“Tien jaar nadat iemand opgehou rook het, is die persoonlike risiko vir kanker die helfte minder as toe die persoon nog gerook het,” het Joubert gesê. “Hoewel e-sigarette bemark word as middels wat ’n roker help om die rookgewoonte te staak, kan hierdie veronderstelling nie deur navorsing gestaaf word nie. Dit kan rokers selfs aanmoedig om meer gereeld nikotienprodukte te gebruik.

Dit is ook nie goedkoop om e-sigarette te rook nie en rokers kan as gevolg daarvan besluit om eerder sigarette te rook om geld te spaar.”

  • Die nuwe Konsepwet op Tabakbeheer is in Mei verlede jaar deur die Minister van Gesondheid (Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels, 2018) vir kommentaar gepubliseer. Die wysigings sluit in 100% rookvrye openbare plekke, gestandaardiseerde gewone sigaretverpakking met grafiese gesondheidwaarskuwings, die regulering van elektroniese sigarette as tabakprodukte, die verwydering van sigarette uit die oog en om nie sigarette in masjiene te verkoop wat ook ander produkte soos eetgoed aan gebruikers beskikbaar stel nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button