Dollie die skoene op en ondersteun Tekkie Tax

Dit is weer tyd om daardie ou skoenveters te vervang met nuwe vrolike, kleurvolle veters om te wys dat jy jou “belasting” betaal het op Tekkie Tax-dag ter ondersteuning van welsynorganisasies.

Die inisiatief se gelukbringer, Happy, het die afgelope tyd skole besoek om die jongspan aan te moedig om deel te neem. Happy was besig in Die Pos se omgewing en het die Sonstraalskool, Laerskool Nylstroom, Bosveld Apies-kleuterskool, die CVO-kleuterskool, Klouter-kabouterkleuterskool en Laerskool Vaalwater besoek.

Dié landwye inisiatief sa-mel geld in vir meer as 1500 nie-winsgewende organisasies wat hulself beywer om van die wêreld ’n beter plek te maak.

Vanjaar kan diegene wat Tekkie Tax ondersteun een (of meer) van vyf plakkers kies wat elk ’n sektor verteenwoordig. Daarna kan hulle die kleurvolle veters, wat “hickies” genoem word, teen R40 koop om op nasionale Tekkie Tax-dag op Vrydag 31 Mei te dra.

Die plakkers, sowel as tatoëermerke wat met water verwyder kan word, kos R10, ’n digitale plakker met jou naam op kos R20, swart Tekkie Tax-t-hemde kos R100 vir volwassenes en R80 vir kinders en 2019 se beperkte voorraad Tekkie Tax-T-hemde in wit en grys kos R130. Die digitale plakker kan bestel word by www.tekkietax.org.

Die vyf sektore wat deur Tekkie Tax verteenwoordig word is diere (verskeie takke van die dierebeskermingseenheid (DBV) sal hieruit voordeel trek), bring hoop (SAVF, Famsa en Lifeline SA), kinders (verskeie kinderwelsynorganisasies, SOS Children’s Villages en Childline SA), gestremdheid (Epilepsy SA, Downsindroom SA) en opleiding (Kansa en Pink Drive).

Vir bestellings bel vir Henriette Els van die SAVF by tel. 079 883 6729 of die Abraham Kriel-kinderhuis by tel. (014) 717 5264.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version