LifestyleRecipes

Slaan die winter vir ’n ses met sitrusvrugte

Wanneer die oggende al koeler en die aandlug byterig raak, weet ’n mens die winter kruip nader — en so ook sitrustyd.

Sitrusvrugte het ’n hoë voedingswaarde en bevat baie minerale en vitamiene, veral vitamien C wat as een van die beste teenvoeters vir winterverkoues beskou word.

Van al die sitrusvrugte is suurlemoene seker die veelsydigste. Dit kan gebruik word vir skoonmaakmiddels, is heerlik in vleisdisse en slaaisouse en is ’n wenner in soetgebak.

Suurlemoensap word al eeue lank as medisyne gebruik. Dit is veral bekend vir sy antioksidante en kankerwerende eienskappe. Volgens ou boererate bevorder dit die immuunstelsel, help met spysvertering, verhoog konsentrasie, hou die lewer en niere skoon, onderdruk eetlus, voorkom hartaanvalle, help met die vinnige genesing van wonde en beveg dit infeksies. Dit word ook algemeen gebruik om verkoue- en griepsimptome te behandel en in die verligting van hoes, asma, naarheid en reissiekte.

Om griep en verkoue op sy plek te sit, het ons voorouers geglo om die sap van ses suurlemoene, een knoffelhuisie, twee teelepels gemmerpoeier, twee eetlepels heuning, drie koppies pynappelsap en ’n kwartteelepel rooipeper te meng en in ’n glasbeker in die yskas gebêre. Van dié mengsel het hulle dan een koppie vier keer per dag geneem totdat die verkoue- en griepsimptome verdwyn het.

So van sitrus gepraat — ek het onlangs ’n stokou resepteboekie in ’n pandjieswinkel uitgekrap en dié heerlike en maklike resep vir ’n lemoenlaagkoek ontdek:

Bestanddele:

  • 2 koppies meelblom
  • 2 eiers, saam geklop
  • 1 koppie suiker
  • 2 eetlepels botter
  • 1 koppie melk
  • sap en skil van een groot lemoen
  • knippie sout
  • 4 teelepels bakpoeier

Metode:

Meng alles saam. Bak in twee gesmeerde laagkoekpanne teen 180°C vir 20-25 minute.
Wanneer koud, versier met botterversiering gemeng met lemoensap. Gebruik dit ook vir vulsel.

Related Articles

Back to top button