Lifestyle

Prinses van Suid-Afrikaners se harte

Sy is gretig om die grootste gedeelte van haar dag saam met die tweeling deur te bring.

Dit is nie om dowe neute dat prinses Charlene van Monaco die liefling van Suid-Afrikaners se harte is nie.

Dié gebore Zimbabwiër wat in Suid-Afrika grootgeword het, is nie skaam om haar liefde vir die Afrika-kontinent te verklaar nie en sy besoek Suid-Afrika ook dikwels.

Maar dit is veral haar toegewydheid as ma wat haar ’n koningin van harte maak.

Sy erken met trots dat sy die meeste van die tyd self betrokke is by die grootmaak van haar tweeling, Jacques en Gabriella, en dat sy dié taak terdeë geniet.

Die tweeling het selfs die voorreg om by hul ma, ’n voormalige Olimpiese swemmer, swemlesse te ontvang.

Haar man, Prins Albert (60), het al sy bewondering uitgespreek oor die feit dat Charlene so ’n toegewyde ma is.

Hy het tydens ’n onderhoud met die media gesê dat Charlene gretig is om die grootste gedeelte van haar dag saam met die tweeling deur te bring.

Sy staan om 06:00 op om die kinders wakker te maak en kry hulle dan gereed vir skool,” het hy gesê.

Hoewel die egpaar en hul gesin se lewens baie privaat is, sien ’n mens prinses Charlene dikwels in gemaklike klere waar sy saam met die tweeling aan aktiwiteite of uitstappies deelneem.

Die prinses het tydens ’n onderhoud met ’n Franse tydskrif vertel dat Gabriella “oulik” is omdat sy selfs op ’n Saterdagoggend vrolik uit die bed spring om skool toe te gaan en dan baie teleurgesteld is as haar ma haar meedeel dat daar nie op Saterdae enige skoolaktiwiteite is nie.

Hoewel die tweeling skool blykbaar baie geniet, is hulle ook maar, soos alle kinders, lief vir soetgoed en kan hulle ook net lekker speel en baljaar.

Prinses Charlene leer die tweeling om van kleins af te dink aan mense wat nie dieselfde voorregte as hulle het nie. Daarom leer sy haar kinders om elke aand te bid vir ander mense se nood en behoeftes, het sy aan die tydskrif gesê.

Die prinses het blykbaar haar eie gereedskapskas waarin daar onder meer ’n skroewedraaier, skêr, kleefband en gom is wat sy gebruik om die kinders se gebreekte speelgoed te herstel.

Sy het verder ook aan die tydskrif gesê dat haar man op sy gelukkigste is wanneer hy tyd saam met haar en die tweeling deurbring.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button