Lifestyle

Kry tuin gereed vir koeler dae

’n Groot liefde vir tuinmaak en plante snoer ’n groep inwoners een keer per maand saam tydens die Nylstroom-tuinbouvereniging se gereelde byeenkomste.

Die tuingeesdriftiges het tydens hul onlangse vergadering, wat by Shangri La-hotel, met sy lowergroen tuin, gehou is, na Marie Fourie van Blomhoekie-kwekery se raad geluister. Sy is ’n kenner op die gebied van biologiese beheer van plae en het die voordeligheid van insekte wat predatore is, soos perdebye wat ander insekte in toom hou, aan die groep verduidelik.

Sy het aan die tuiniers gesê ’n deklaag soos byvoorbeeld klippe, bas, blare, kompos of kraalmis hou plante se wortels klam in die somer en beskerm dit teen koue in die winter. Dit verhoed ook dat onkruid opkom.

Sy het aanbeveel dat goeie voeding vir plante gemaak kan word deur ’n tee te trek van kraalmis, lusern en kompos. Die water wat ’n mens gebruik om groente in te kook, kan ook vir potplante gegee word omdat daar baie voedingswaarde in is. Hout-as van daardie lekker braaivleisvuur moenie summier weggegooi word nie, maar eerder by grond wat suur is, ingewerk word. Dit sal die grond meer alkalies maak.

Haar wenk vir die maand is dat die vyf P’s nou geplant kan word: “pansies” (gesiggies), papawers, petunias, primulas en pronkertjies.

Die groep het tydens vorige byeenkomste ook by André Pienaar geleer van waterwyse tuine wat mooi gemaak kan word met aalwyne, klippe en stokke. Koekies Koekemoer, wat landwyd toer met sy groot versameling eiesoortige vetplante, het ook al ’n draai gemaak en mense verder geïnspireer om hul dorstige tuine te verander deur meer geharde plante te plant. Die suksesvolle kweek van impalalelies en hoe om bonsai-boompies te versorg, was ook al op die leerlys. Die vereniging se volgende vergadering sal handel oor vleilande.

Belangstellendes is welkom om by die vereniging in te skakel. Vir meer inligting, bel vir Venita Terblanche by tel. 082 872 8822.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button