EntertainmentLifestyle

Orkes vermaak gehoor met pragtige musiek

Die bekende Simfonia Juventi-jeugorkes het ’n wonderlike uitvoering op Saterdag 13 April by Die Oog-aftreelandgoed buite Mookgophong gelewer.

“Die Oog se Simfonia Juventi-komitee is in die wolke oor die geld wat ingesamel is, waarvan elke sent aangewend sal word vir die verbetering van die sorgsentrum se wye verskeidenheid dienste,” het Elize Duncan, een van die organiseerders, gesê.

Die Pos het ook na die orkes gaan luister. Die Olienhoutsaal by die oord was stampvol met die 104 orkeslede en 370 geesdriftige konsertgangers. Die orkes het die uitvoering begin met die bekende Allegro Con Brio van Beethoven. Verskeie ander items het gevolg wat gewissel het van klassieke klanke van Bach tot die meer kontemporêre musiek van John Williams se Star Wars-rolprente. Die repertoire het in almal se smaak geval.

Die gehoor was baie beïndruk met die standaard van die orkes se uitvoering.

“Die kinders het besondere talente en die gehalte van die musiek wat gelewer is, is die toonbeeld van ure se harde oefening en die toewyding van Eddie Clayton, afrigter en dirigent,” het Néla Gilliomee, ’n konsertganger, gesê.

Greta Hechter, ’n gr. 12-leerder aan Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria wat die tjello bespeel, het aan Die Pos gesê sy het dit baie geniet om deel van die ervaring in die Waterberg te wees. Sy het haar dank uitgespreek vir die gasvryheid waarmee hulle ontvang is.

Die orkes word saamgestel uit skoolgaande leerders uit al die onderskeie streke van die land. Die orkes bestaan vanjaar uit lede van 29 verskillende skole en sommige wat tuisonderrig ontvang.
Duncan het gesê hulle is baie dankbaar teenoor die borge en almal wat ruim kontantskenkings gemaak het.

Die Oog se inwoners het nie net hul beursies oopgemaak nie, maar ook hul huise en harte. Al die orkeslede, orkesouers en organiseerders en busbestuurders is by net meer as 50 inwoners se privaat wonings gehuisves.

Dit was vanjaar die agste keer dat die orkes gratis in Mookgophong opgetree het ten bate van ’n verdienstelike instansie in die dorp.

Related Articles

Back to top button