EntertainmentLifestyle

Musiekervaring wag op Bosvelders

Simfonia Juventi-jeugorkes tree in April by Die Oog Aftreelandgoed net buite Mookgophong op en die gehoor sal beslis in bekoring wees oor die musiek wat dié orkes sal optower.

Dié jeugorkes bestaan uit 104 belowende leerders wat deur middel van oudisies die voorreg kry om hul musikale vermoëns en vaardighede ten toon te stel. Die dirigent is die welbekende Eddie Clayton. Die uitvoering vind op Saterdag 13 April om 18:00 plaas.

Twee van die soliste wat onder andere tydens die vertoning sal optree, is Brendon de Beer (17) en Dawid Botes (16).

Dawid Botes.

 

De Beer is ’n matriekleerder aan die Pretoria Boys High School en is ’n meesterklarinetspeler. Hy sal die klarinet concerto deur Artie Shaw saam met die orkes in ’n skouspelagtige jazz-styl lewer. Hy het in 2015 by Lizet Smith begin klarinet speel. Hy het vinnig gevorder en binne die eerste jaar is hy genooi om in die skool se Dixi-band (’n groep wat groot aansien geniet) te speel.

Botes is ’n viola-speler (altviool) en is tans besig met voorbereidings vir die Cambridge-eksamen by die British Academy in Pretoria. Hy is reeds vyf jaar lid van die Simfonia Juventi-orkes. Hy speel viool as tweede instrument. Sy sportaktiwiteit is om in die Drakensberg te gaan voetslaan.

Inwoners word genooi om te kom deel in die wonderwêreld van musiek. Kaartjies is R120 per volwassene en R60 vir laerskoolkinders. Dit sluit ’n ligte ete in. Die konsert word aangebied ten bate van Die Oog Aftreelandgoed se sorgsentrum. Kaartjies kan tydens Die Oog se kantoorure aangekoop word of skakel (014) 161 0406 vir besprekings.

Die orkes tree ook op Vrydag 12 April om 17:15 in die Dopper-saal van die Gereformeerde Kerk in Modimolle op. Kaartjies is R40 per persoon. Vir besprekings bel vir Martie van der Wateren by tel. (014) 717 1370 of 717 3264.

Related Articles

Back to top button