Eenmalige simfonie-ervaring in eie kontrei

Simfonia Juventi, die nasionale jeugsimfonie-orkes wat uit 104 leerders van verskillende skole bestaan, lewer op Saterdag 13 April om 18:00 ’n uitvoering by Die Oog Aftreelandgoed net buite Mookgophong.

Die orkes bestaan reeds sedert 1981 en word jaarliks saamgestel uit leerders van al die streke in Suid-Afrika. Belangstellende leerders word genooi om aansoek te doen, waarna ’n aantal leerders gekeur word om oudisies af te lê.

Kriteria vir toelating tot die orkes berus op musikale vermoë, asook die leerder se vlak van vaardigheid met sy of haar spesifieke instrument. Konsertgangers kan dus aanvaar dat die orkesmilieu sal getuig van kundigheid, vaardigheid en hope talent.

Toe Simfonia Juventi in 1981 onder leiding van Alan Solomon in die lewe geroep is, was die doelwit om aan belowende leerders die geleentheid te bied om hul musiektalent te ontwikkel en orkeservaring op te doen. Fanie Jooste was 25 jaar lank die dirigent, maar vanjaar is dit Eddie Clayton wat vir die tweede keer die orkes lei.

Moenie hierdie geleentheid misloop nie. Kaartjies is tydens kantoorure te koop by tel. (014) 161 0406. Kaartjies beloop R120 per volwassene en R60 vir laerskoolleerders. Kaartjiepryse sluit ook ’n ligte ete in. Die konsert word aangebied ten bate van Die Oog Aftreelandgoed se sorgsentrum. Vir navrae oor die optrede en die simfonie-orkes bel vir Elize Duncan by tel. 082 903 1461.

Exit mobile version