Verbruikerswet beskerm voertuigkopers

Nuwe motors is duur en geld is min, daarom bied gebruikte motors aan soveel mense die enigste geleentheid om ’n eerste motor te koop of selfs op te gradeer na ’n groter of luukser model.

Maar in die meeste gevalle loop hierdie kopers maar lig vir die gebruikte voertuighandelaars. Ons het al soveel kere gelees of gehoor van kliënte wat bloutjies geloop het.

Die wet op verbruikersbeskerming (WOV) bied gelukkig ’n mate van beskerming aan die koper. Dit is egter belangrik om te verstaan dat die wet se fokus op redelikheid en regverdigheid is.

Onverantwoordelike kopers moet dus nie wonderwerke verwag nie, maar eerder steeds alles in hul vermoë doen om ’n voertuig eers deeglik deur te kyk en by ’n handelaar met ’n goeie reputasie aan te klop.

Dit is ook belangrik om die volgende in gedagte te hou:

Dit is die verantwoordelikheid van ’n handelaar om ’n voertuig te verkoop wat veilig, van goeie gehalte en in ’n werkende toestand is. Vir die koper is dit belangrik om liefs met ’n bekende, eerbare handelaar sake te doen.

My raad is om slegs by die konsessiehandelaars te bly. Die meerderheid van hulle voorraad is inruilvoertuie en hulle het ’n reputasie om te beskerm.

Exit mobile version