Lifestyle

Op die spoor van ’n ou foto by ‘Deborah se klip’

“Ek wonder of die klip nog bestaan?” vra Pa diep peinsend. “Nee wat, ek is seker hulle het al daar ontwikkel,” sê Ouboet.

Die onlangse afsterwe van my ma het die uitsorteer van eindelose goeters en dingetjies tot gevolg gehad.

Goed soos familiefoto’s wat dateer uit die tyd toe fotograwe nog die kleur ingeskilder het. So ontdek ons die eerste kiekie wat ooit van my pa geneem is — getekende wimpers en ’n blou “baby grow” met kappie en al.

“Daardie foto is by Deborah se klip geneem,” bevestig hy.

“Ek wonder of die klip nog bestaan?” vra Pa diep peinsend.

“Nee wat, ek is seker hulle het al daar ontwikkel,” sê Ouboet. Met ’n vinnige kom-ons-gaan-kyk toets ek die water en só word dit tyd vir ’n “road trip down memory lane”, ’n nuwe avontuur vir ons gesin se manne.

Ná deeglike beplanning breek die tweede naweek van Februarie uiteindelik aan en begin die soektog na Deborah se klip, ’n groot rots in die veld net buite Smithfield in die Suid-Oos Vrystaat.
Ek en my seun sit net ná pouse af Brakpan toe waar Oupa reeds by Ouboet se huis wag.

Heerlike reën verwelkom ons in Bloemfontein en gesus met die mooi bekende omgewing, steek ons die voertuig se neus in Reddersburg se rigting tot by die Bloekomhuis in Smithfield.

Saterdag vroeg gaan soek ons die klip en neem verskeie foto’s van my pa — presies daar waar hy meer as 72 jaar gelede die eerste keer voor die kamera gestaan het.

En as die leser gewonder het — niks het verander nie. Ouboet se groot ontwikkeling is nog in beplanning.

Ons besoek ons oupa- en oumagrootjie se grafte en gaan kyk hoe lyk Oupa se huis nou. Op die dorp maak ons ’n draai by die verval-le munisipale swembad, die rugbyveld en die wal waar ons altyd teiken geskiet het.

Die nuwe brug oor die Caledon, net stroomop van die plek waar die grootste babers destyds geboer het, is nog ’n stilhou-plek op ons tog.

Ons sluit die dag af met ’n lekker vet staanribbetjie. Hoe anders? ’n Mens eet tog skaap in die Vrystaat.

Sondag net ná etenstyd is almal veilig by die huis, effens moeg maar met nuwe goue herinneringe van ou bekende plekke.

Hoë brandstofpryse ten spyt is so ’n “road trip” saam met die mense wat jy liefhet, die beste belegging ooit.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button