Landbouers hoor oor stand van sake tydens jongboerkonferensie

Beoogde wetgewing oor uitheemse indringerspesies kan beteken dat boere nie meer kikoejoegras, kweek en ander grassoorte kan saai nie. Hulle kan groot boetes opgelê word.

Jong boere het vir ’n oomblik hul trekkers in die koelte laat staan om verlede week se TLU Jongboerkonferensie by die Weesgerus-vakansieoord buite Modimolle by te woon.

Die Transvaalse Landbou-unie (TLU) vereer uitskieterboere wat jonger as 40 is en reeds hul merk in die bedryf maak. Die tema vir die konferensie wat op Vrydag 22 Februarie gehou is, was “Tyd vir saamstaan”.

Dr. Gert Dry, oudvoorsitter van Wildlife Ranching South Africa (WRSA) het gepraat oor ontstuimigheid en beleidsverwarring in die wildbedryf.

Hy het onder meer ook gepraat oor hoe boere nie besef dat nuwe wetgewing hulle direk kan raak nie.

Beoogde wetgewing oor uitheemse indringerspesies kan beteken dat boere nie meer kikoejoegras, kweek en ander grassoorte kan saai nie. Hulle kan groot boetes opgelê word.

Volgens Dry moet die wildbedryf se bydrae tot bewaring nie onderskat word nie. In 1960 was daar na verneem word net drie privaat wildsplase in die land teenoor die huidige meer as 10 000. Hy het die prentjie verder ingekleur en gesê dat daar in Suid-Afrika 20 miljoen stuks wild is, 14 miljoen beeste (waarvan met slegs 7 miljoen kommersieël geboer word, die res behoort aan bestaansboere) en 30 tot 40 miljoen skape en bokke.

Dry het verduidelik dat wetgewing wat biosentries en bewaringsgerig is, groot uitdagings vir die landbou inhou indien hul behoeftes nie in ag geneem word nie.

Een van die probleme wat hiermee gepaard gaan, is permitte wat die skuif van wild beperk en bepaal in watter dele van die land watter soort wild aangehou mag word.

Die beleidsonsekerheid oor wetgewing bring reeds groot hoofbrekens mee. “Ek moedig mense aan om te reageer op die beplande nuwe wetgewing en regulasies indien dit nie tot voordeel van die landbou strek nie,” het hy gesê.

Henk de Graaf, streeksvoorsitter van die TLU se noordstreek, het klem gelê op die nodigheid dat boere saamstaan.

“Ons geskiedenis word gekenmerk deur tweedrag; nie net in die politiek nie, maar ook in godsdiens. Dié verskille is vir my ’n aanduiding dat daar sterk leierskap onder die groepe bestaan,” het hy gesê. Baie boere is glo nie by georganiseerde landbou betrokke nie. “Daar is slegs 30 000 tot 40 000 landbouers in die land. Kan ons verdeeldheid bekostig?”

Hy het gesê hy haal sy hoed af vir die jonger geslag boere. “Ek vra hulle dikwels hoekom hulle wil boer en telkens is die antwoord dieselfde: ‘Want dit is in my bloed’.”

De Graaf glo landbou het ’n bedeling nodig wat tot voordeel van die produsent en die verbruiker strek en die middelman nie die grootste deel van die koek vat nie.

Hy het boere aangemoedig om planne te maak en uitdagings die hoof te bied. Hy het ’n voorbeeld van elders in die land genoem waar boere ’n fonds op die been gebring het, soortgelyk aan ’n stokvel, waarin elkeen ’n deel van hul opbrengs inbetaal het. Dié fonds word dan gebruik om boere wat in nood is te help sodat hulle nie hul grond verloor nie.

Louis Meintjies, president van TLU SA, het die dag afgesluit.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button