LifestylePets

Superman Steve die nagapie klou aan die lewe vas

“Die mens se indringing in hul natuurlike habitat het deur die jare toegeneem en dit is daarom nie vreemd om hulle nou in huise se dakke aan te tref nie.”

As dit nie vir ’n paar op-en-wakker besoekers van die Sondela-natuurreservaat was nie, sou Steve die nagapie-weeskind, nooit oorleef het nie.

Volgens Lindie Scheepers, bestuurder van die reservaat se rehabilitasiesentrum, die Sondela Wildlife Centre, het Steve einde verlede jaar vermoedelik uit ’n boom of dak by die reservaat se hoofingang geval.

Bykans vier maande by die Sondela-rehabilitasie-sentrum het Steve goed gedoen. Hy sal na verwagting eersdaags vrygelaat word.

Hy was nog pienk en baie swak toe gaste op hom afgekom en hom na die sentrum gebring het waar hy gerehabiliteer is.

Bykans vier maande later lyk Steve nou fris en gesond en is hy bykans gereed om weer vrygelaat te word, het sy aan Die Pos gesê.

“Dit is nog te gevaarlik om hom vry te laat, want as hy met ander mannetjies in kontak kom, kan hulle baklei omdat nagapies territoriaal is. Ons hou hom eers in sy hok, maar is baie bly om te sien dat hy al lekker rondspring.”

Die sentrum neem al vir jare beseerde diere in, versorg hulle en rehabiliteer hulle totdat hulle sterk genoeg is om weer in die natuur vrygelaat te word.

Scheepers het gesê nagapies se ekologiese doel is om insekte te beheer.

“Hulle is geneig om snags aktief te raak en skuil meestal in die dag in gate,” het sy gesê.

“Die mens se indringing in hul natuurlike habitat het deur die jare toegeneem en dit is daarom nie vreemd om hulle nou in huise se dakke aan te tref nie.”

Nagapies is in terme van die konvensie oor internasionale handel in bedreigde spesies van wilde fauna en flora (Cites) as bylaag tweedier gelys.

Dit beteken dat nagapies nie noodwendig met uitwissing bedreig word nie, maar dat dit kan verander indien die handel van hierdie soort diere nie ordentlik beheer word nie, aldus Cites se webtuiste.

Scheepers nooi mense om die Sondela-rehabilitasiesentrum te besoek en kennis te maak met Steve voordat hy vrygelaat word, asook met die ander diere wat daar versorg word.

Related Articles

Back to top button