Lifestyle

Die Oos-Rand, Ford Cortinas en ‘common’

Ek wonder nog altyd: Wat is “common’? Wie en wat bepaal die graad van “common”? En wie se verwysingsraamwerk is gebruik om “common” te bepaal?

Kyk, ek is aan die Oos-Rand gebore en het trots daar groot geword, skoolgegaan en my eerste Cortina uit die Springs en Brakpan Advertiser se “smalls” gekoop.

Die afwagting en opwinding was wonderlik.

Ek is dalk ’n “kenner oor die woord common” sonder dat ek dit weet. Miskien het mense al gehoor hoe gevaarlik Springs Tek se seuns is as jy Cortina-grappies met hulle maak en gevolglik loop ek selde onder Oos-Randgrappies deur.

Ek wonder nog altyd: Wat is “common’? Wie en wat bepaal die graad van “common”? En wie se verwysingsraamwerk is gebruik om “common” te bepaal?

Dalk is my verwysing van so ’n aard dat ek nie juis oor sulke goed moet skryf nie. Ek meen, ek het altyd gedink my Cortina is heel “lieks” (vandag sal die term cool gebruik word). Dit was dan ’n GL vir General Luxuries-model.

Maar nou, ná jare se invloed en breinspoeling deur die Toyota-brigade, is ek nog meer verward.

Vir Nataniel sal die botter en suiker oor my pap onmiddelik genoeg bewys wees van my commongeit en ek reken die KWV wat ek oor die Krismiskoek gegooi het, sal ook nie iemand van my styl oortuig nie. Maar ek dink nog steeds nie daar was fout met my Cortina nie.

Ek dink eintlik “common” is as jy probeer om iets te wees wat jy nie is nie. In my boek is trots ’n karaktertrek wat noemenswaardig is. Of jy ’n Cortina of Laser Tracer het, jy is nie “common” as jy hom oppas, skoonhou en so mooi as moontlik probeer maak omdat jy trots is op jou ryding en jou goed wil oppas nie.

In my wêreld is daar niks fout met individualisme nie. Maak hom só dat almal weet dit is joune. As jy nie goed na jou voertuig omsien nie, dán is jy “common”.

  • Paul Smith is ’n motorliefhebber, gesinsman en eienaar van die Spur op Bela-Bela.

Related Articles

Back to top button