Lifestyle

Watwou, Jan Tuisbly? Die Waterberg bied vakansie op jou voorstoep aan

Mense reis van regoor die wêreld om te kom kyk na dit wat ons reeds het. Speel toeris in jou agtertuin.

Jan Tuisbly? Moenie verwese na jou vriende se seefoto’s op sosiale media staar nie. Ons woon immers in die mooie Bosveld — mense reis van regoor die wêreld om te kom kyk na dit wat ons reeds het. Speel toeris in jou eie agtertuin. Die Pos gee ’n paar idees: Stap tot dóér ver:

  • Die Bataleur-natuurreservaat, 25 km van Bela-Bela én Modimolle, bied tien verskillende staproetes as deel van hul bekende Stamvrugstaproetes in die ongerepte Bosveld. Kies ’n roete na gelang van vaardigheid. Ná die reën is daar rotspoele om in te swem en terwyl jy stap kan ’n mens jou verkyk aan kameelperde, sebras, elande, blouwildebeeste en ander wild. Skakel tel .072 565 7070 of tel. 083 677 6999.
  • Rek die bene by die Wag-’n-Bietjie-staproete 20 km buite Bela-Bela en geniet die Bosveld-vistas. Daar is drie sirkelroetes wat wissel van 2,7 km, 5 km en 11,5 km. Skakel tel. 082 805 0740.
  • Serendipity Eco Trials buite Modimolle in Mookgophong se rigting bied staproetes sowel as uitdagende 4×4-roetes, in die mooi Bosveld aan. Dit is naby aan Nylsvley geleë en ideaal vir voëlkykers. Skakel tel. 082 553 3266.
  • Die 4 000 hektaar Nylsvley-natuurreservaat is ’n juweel in ons midde. Benewens die 400 verskillende voëlspesies is daar ook meer as ’n duisend groot soogdiere. Pak ’n piekniekmandjie, verkyker en stapskoene in en kyk voëls en wild en geniet die natuur. Die reservaat is tussen Modimolle en Mookgophong geleë en is daagliks oop vanaf 06:30 tot 17:300. Tel. (014) 743 6925 of 071 057 0828.

Sterre in jou oë:

  • Dr. Phil Alcott van Vaalwater bied sterkykaande by Waterberg Cottages in die Melkrivier-omgewing aan. Die Bosveld is ideaal vir sterrekyk omdat hier min lugbesoedeling is. Vir meer inligting skakel tel. 083 552 2119.

Vat die pad:

  • Pak outydse padkos (frikkadelle, toebroodjies met appelkooskonfyt, gekookte eiers en ’n fles koffie) en trek ’n padkaart nader. Die Waterberge het verskeie roetes om te verken. Mik Vaalwater se rigting toe en ry Bakkerspas en Rankinspas vir mooi uitsigte en baie wild langs die draad. Sorg dat jy kontant het sodat jy stroopsoet perskes by stalletjies in die Alma-omgewing kan koop. As die keel droog is op Vaalwater, probeer die dikste melkskommel in die Waterberge by Hunters Hide-restaurant. Die Bokpoortpas buite Mookgophong is ook die ry werd.

Rof onbeskof:

  • Vat jou fiets of motorfiets en durf die Aardwolf 4×4-baan net buite Modimolle op die R101 se bulte en slote aan. Skakel tel. 083 501 0079.

Foefieslaaids:

  • Lekhalo Safaris Zipline is sowat 30 km buite Vaalwater op die Dorset-pad geleë. Hul twee uur toer van ses lyne wissel van 90 m tot 150 m in afstande. Hulle bied ook ’n heerlike ontbyt aan. Skakel tel. 082 484 8622.
  • Waterberg Ziplines, geleë by Thabo Monate-vakansieoord tussen Modimolle en Bela-Bela, gee avonturiers kans om tussen die klowe te gly. Skakel tel. 073 591 2280.

Kersliggies:

  • Die Kersliggie-gier het ook die Bosveld beetgepak. Die Abraham Kriel-kinderhuis, sowel as die Kokanje-aftreeoord in Modimolle, het derduisende liggies aangeskakel. Ook in Springbokstraat in Modimolle is ’n besondere huis wat oop is vir Jan Rap om hul aan die kleurvolle liggies te vergaap.

Korrel, mik, skiet:

  • As dit adrenalien is waarna jy soek, maak ’n afspraak by Skulls Paintball buite Bela-Bela. Hulle verskaf ’n oorpak en gesigmasker, maar jy moet self tussen die bosse koes vir die verfkoeëls. Skakel tel. 071 129 0166 of 071 703 3142.

Padstalletjies:

  • Moenie verbyry nie. Hou stil by elke padstalletjie. ’n Mens kan in Januarie weer haastig wees.
  • Gedurende Desembermaande spog Nantes-padstal tussen Modimolle en Mookgophong met ’n wye verskeidenheid vars vrugte wat ’n mens nie aldag in die supermark raakloop nie.
  • Die IetsivanAls-padstal tussen die tolhek en Modimolle het Afrika-kuns, sowel as ander handwerk.
  • Net buite Modimolle, op pad na Bela-Bela is ’n stalletjie met ’n wit draadkoets. Mense wat van vetplante en bromeliads hou, kan hul beursie gryp en vir Pa sê om solank plek te maak in die kattebak.
  • Kyk uit vir die informele padstalletjies naby Alma waar vars perskes te koop is.
  • Peet se Padstal en Plaaskombuis is op die Rooiberg/Thabazimbipad buite Bela-Bela geleë. Daar is ’n swetterjoel items te koop en iets lekkers om te eet.
  • As vuurwarm varsgebakte brood en kaiings jou mond laat water, mik reguit vir Toeka se Dae-padstal op die R516-pad tussen die N1 en Bela-Bela. Dié padstal en sy lekkernye is ’n ou bekende onder stadsbesoekers.

Raak wild:

  • Die Bambalela Wildlewe-en Blouaap-rehabilitasiesentrum is 20 km vanaf Bela-Bela op die Groot Nylsoog-pad geleë. Kom leer hier meer oor diere-rehabilitasie. Skakel tel. (014) 736 4090 of tel. 083 454 8441.
  • Vir ’n onvergeetlike ervaring besoek Adventures with Elephants buite Bela-Bela. Dit is meer as net ’n voel-en-voer-uitstappie. Besoekers kan die bos verken op een van die reuse se rug, of selfs saam met hulle ’n modderbad vat. Skakel tel. (014) 734 7730 of tel. 079 431 7655.
  • Bekyk roofdiere — groot en klein — van naderby by Loebies-roofdierpark buite Bela-Bela. Die park het ook ’n teetuin waar besoekers iets kan eet na die toer. Skakel tel. 083 520 9172 of tel. 083 374 5254.
  • Bouncy Croc buite Mookgophong bied benewens duisende krokodille en ander interessante reptiele soos drake en ’n reusagtige anaconda ook ’n waterpark met glybane en ’n restaurant. Bring die hele dag daar deur. Skakel tel. 087 820 4526.
  • Thaba Kwena-krokodilplaas, een van die grootstes in die land, is tussen Modimolle en Bela-Bela. Hulle bied toere aan en smulpape kan selfs weglê aan ’n krokodilburger. Skakel tel. 073 466 7113.

Lekker eet:

  • Proe ’n wildsbok by Wildskombuis in Modimolle. Hulle spyskaart sluit onder meer sebra, koedoe en blouwildebees in. Sluk dié wildsvleisie met ’n koel spesialiteitsgin of –bier af.
  • Die Geluksfontein-kaasplaas is sowat 30 km vanaf Modimolle op die Vaalwater-pad. Loer in by die restaurant om te proe aan die verskeidenheid pryswenner-bokmelkkase wat beskikbaar is. Hulle het ook bokmelkseep, maaskaas en fudge beskikbaar! Skakel tel. 083 704 4229.
  • Agri Deli in Bela-Bela se wildspasteie is uit die boeke. Hulle is in die Bela Mall geleë.
  • Waar begin ’n mens? Pak maar al die biltongwinkeltjies een vir een aan!

Visvang:

  • Klipspringer-vakansieoord, ’n katspoegie buite Modimolle op pad Moogkophong toe, bied ’n lekker visvangdam sowel as ’n swembad aan om in af te koel. Skakel tel. 083 785 3475.

Maak jou eie golwe:

  • Hoewel nie al die oorde in die omgewing dagbesoekers toelaat nie, is daar wel dié wat dit toelaat. Besoek Forever Resorts Bela Bela om af te koel in die verskeidenheid swembaddens en deel te neem aan die waterpret. Modimolle Resort spog ook met ’n nuwe restaurant. Skakel tel. 087 820 7185.

Nuwejaarsdans

  • Dans die nuwejaar op Maandag 31 Desem-ber by Mashudu Private Game Lodge tussen Vaalwater en Modimoll in. Bespreek vooraf by tel. 063 284 8005.

Enjoy a relaxing massage or spa day. Visit HealthSpas.so.za to find a spa near you. 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button