Lifestyle

Vakansievoorbereiding uiters noodsaaklik

Met die vakansie op hande gaan talle motorryers weer hierdie feesseisoen die langpad aandurf.

Natuurlik is dit belangrik om deeglik seker te maak die vakansieryding is behoorlik versien en gereed vir die langpad. Kyk na die volgende:

  • Gaan die wiellaers van sleep- en woonwaens na. Smeer indien nodig met vars ghries. Wanneer jy ’n entjie gery het, moet die laers weer nagegaan word. As die laers warm voel, is daar probleme.
  • Banddruk. Laat bande by ’n handelaar nagaan en behoorlik gepomp word. Die loopvlak se diepte en toestand van die loopvlak moet ook nagegaan word. Pap bande gebruik meer brandstof en word ook warm. Moenie van die spaarwiel vergeet nie.
  • Remme. Terwyl die wiele by die handelaar verwyder is, moet die remme ook nagegaan word. Die remme kan ’n verskil in ’n noodsituasie maak.
  • Battery. Batterye hou gewoonlik net ’n paar jaar. As jou motor ’n bietjie huiwerig klink met die aansitslag, kan die battery gerus getoets word. Dit is ongemaklik om in die boendoes op Kersdag met ’n pap battery te sukkel.
  • Vloeistofvlakke. Alle water, olie en hidrouliese vloeistowwe se vlakke moet weekliks nagegaan word, ongeag of jy ’n lang rit beplan. Selfs motors wat gereeld gediens word, moet weekliks met so ’n inspeksie bederf word.
  • Ligte. Toets alle ligte, voor en agter en natuurlik die sleepwa se ligte ook. Pak sommer by voorbaat ’n verskeidenheid spaarsmeltdrade in.
  • Onthou om gereeld op ’n veilige rusplek stil te hou. Pak genoeg padkos en geniet die vakansie. Ry veilig en kom vernuwe terug huis toe.

Related Articles

Back to top button