Lifestyle

Groter nie altyd beter — ook nie by motors

Ons almal het ’n onversadigbare honger wat begin knaag kort nadat ’n nuwe aankoop uit sy verpakking gehaal is.

Die mensdom is gestraf met ’n onvergenoegd-heid, tot so ’n mate dat ek soms skaam voel om ’n mens te wees.

Ons het hierdie behoefte na groter, beter en vinniger wat net nooit vervul kan word nie. ’n Onversadigbare honger wat begin knaag kort nadat ’n nuwe aankoop uit sy verpakking gehaal is. Die nuwe TV is skaars ingeprop, of ons begin wonder hoe lekker dit sal wees om ’n projektor te hê.

Met die droom oor die aankoop van nuwe motors, gedy hierdie gatjeuk-monster. Dertig jaar gelede was 200 Nm-winkrag meer as ge-noeg om destyds se swaar karavane te sleep of om ’n ton groente mark toe te vervoer. Deesdae is 500 Nm-wringkrag nie meer vreemd nie. Huise het boonop heelwat meer slaapkamers as inwoners en selfoonkameras meer “megapixels” as wat professionele kameras sommer anderdag nog mee gespog het.

Maar is groter regtig beter? Is geluk nie juis te vinde in die gevoel van vergenoegdheid en tevredenheid wanneer ons besef ons leef eintlik in oorvloed nie? Lê die genot van besittings nie juis in die gebruik daarvan nie? Is dit nie dalk moontlik dat jou huidige motor eintlik perfek aan jou behoeftes voldoen nie?

Soms, wanneer ons mooi dink, besef ons dat die motor, motorfiets, 4×4, boot, huis of karavaan wat ons tans besit, eintlik voldoende is. Dat daardie nuwe model met die baie liggies en knoppies nie regtig my lewensgehalte gaan verbeter nie.

Dat dit wat ek met my huidige besitting doen, eintlik presies die rede is waarom ek dit in die eerste plek gekoop het. Die goeie lewe begin eers wanneer ons ophou wag vir ’n beter een.

Related Articles

Back to top button