Laat wiel gerus na gewilde Dopperbasaar

Daar is min dinge wat kom by ’n regte plattelandse kerkbasaar en daar is nie baie bakkers wie se koeksisters so lekker smaak soos dié van ’n Dopper-suster nie.

Die Gereformeerde Kerk Waterberg se jaar- likse basaar vind op Saterdag 3 November vanaf 08:00 by die Doppersaal in Kerkstraat 57 in Modimolle plaas. Inwoners wat ’n draai by dié koopfees gaan maak, sal nie teleurgesteld wees nie.

Dié basaar se vleisverkope of “vleispaleis” is baie gewild en ’n mens loop altyd ’n winskopie raak.

Waar kry ’n mens nog topgehalte maalvleis teen slegs R65 per kg? Die Doppers se bekende boerewors sal verkoop teen slegs R70 per kg.

Biltong, met geelvet, sal teen ’n skrale R200 per kg van die hand gesit word en gerookte Russians teen R75 per kg.

Ses spekvet beeste, ’n paar skape, varke én wildsvleis is die afgelope week in die slagkamer, onder leiding van die bekwame Dopper-vleiswerkspan, bewerk.

Vleisverkope sal teen 08:30 afskop.

Daar sal ook ’n heerlike ontbyt bedien word. Kaartjies vir dié ete kan by die kerkkantoor teen R60 per volwassene en R30 vir laerskoolkinders gekoop word of bel vir Alberta van Jaarsveld by tel. 076 812 0282 om vir die ontbyt te bespreek.

Die vrugte- en groentepakke (‘hampers’), wat jaarliks baie gewild is en soos soetkoek verkoop, sal teen R100 beskikbaar wees.

Die gemeente se vroue bak al die afgelope paar weke aan watertandlekkerkoeke, terte, kleinkoekies en beskuit.

Daar sal ook tradisionele geregte soos pap en kaiings, asook pap en afval, pannekoek en basaarpoeding verkoop word.

Tuiniers kan gaan inloer vir ’n groot verskeidenheid plante, vetplante en vrugte-bome waaronder granaat- en vyeboompies, daglelies, kannas en boslelies (clivias).

Soos by enige basaar moet niemand daar wegstap sonder dat hulle ’n draai by die handwerk- en wit olifanttafel gemaak het nie.

Vir navrae bel vir Van Jaarsveld of skakel die kerkkantoor by tel. (014) 717 3721.

Exit mobile version