Eerste Nyliefees was ’n groot sukses

“Ons is baie tevrede met die opkoms wat ons vir die eerste fees gehad het. Dit het baie goed afgeloop en ons hou aanstaande jaar vroeg in September weer fees.”

Modimolle se groot makietie het oud-Nylies die afgelope naweek van heinde en ver gelok.

Die Nyliefees wat op Hoërskool Nylstroom se rugbyveld gehou is, het sowat 3 000 feesgangers gelok, het Wiets Botes, een van die organiseerders en voorsitter van die Waterberg-sakekamer, gesê.

 

Oudonderwysers van Hoërskool Nylstroom is entoesiasties deur feesgangers gegroet by die Nyliefees. Die onthou-jy’s het ure lank aangehou terwyl ou skoolmaats saam gekuier het. Op die foto is oudonderwysers Debbie en Henk van Rensburg en Ben van der Walt, wat deur baie oud-Nylies (veral koshuisseuns) as legendaries bestempel word.

 

“Ons is baie tevrede met die opkoms wat ons vir die eerste fees gehad het. Dit het baie goed afgeloop en ons hou aanstaande jaar vroeg in September weer fees,” het hy gesê.

Een van die hoogtepunte was die oudonderwysers wat die fees bygewoon het. Ben van der Walt, Henk (bekend as Oerkat) van Rensburg en sy vrou, Debbie, van die hoërskool en Wessel Cronjé van Laerskool Nylstroom is van die ouer garde wat geesdriftig deur die feesgangers begroet is.

Die Abraham Kriel-kinderhuis, die Voortrekkers en die hoërskool het goed voordeel uit die fees getrek, het Botes gesê. “Hulle kon ’n paar duisend rand insamel met hul stalletjies en die fees het die hoërskool se elektriese toevoer waarmee hulle al lank sukkel, teen R30 000 opgegradeer.

 

Die heerlike potjiekos was baie gewild tydens die Nyliefees. Die wenners van die kompetisie was PJ Motors. Op die foto is die kokke Willie en Pieter Claasens.

 

“Sowat 20 van die stalletjies het aangedui dat hulle weer wil bespreek vir aanstaande jaar,” het hy gesê.

Feesgangers was aanvanklik teleurgesteld nadat die gewilde sanger Jo Black sy optrede moes kanselleer weens ’n dringende nekoperasie. Plaaslike sanger Martiens Joubert van Juba en sy dogter Elné het egter Black se plek op die verhoog volgestaan met ’n huldeblyk aan die sanger.

’n Bond vir oud-Nylies is ook tydens die fees op die been gebring. “Die idee hiervan is dat daar ’n groep mense is wat die skool kan ondersteun en geld help insamel,” het Botes gesê.

Exit mobile version