Fees der feeste oppad

Feesgangers wat in September die Nyliefees in Modimolle gaan bywoon, kan hul vere regskud om van die beste kunstenaars op die feesverhoog te sien optree.

Dié fees, wat die naweek van 14-16 September op die skoolterrein van Hoërskool Nylstroom plaasvind, se kunstenaarslys sluit onder andere in Franna Benadé, Pieter Koen, Juan Boucher, Tussen Sterre, Juba, Harrebaard en Freckled Elvis.

Die potjiekoskompetisie is een van die groot hoogtepunte van die fees. Daar is nog plek vir spanne wat graag wil deelneem. Dit is die ideale geleentheid vir sakeondernemings om hul ondernemings tydens die fees te bemark. ’n Heerlike wegbreek vir agt persone by die Hazyview Cabanas is boonop vir die wenners op die spel. Vir inskrywings besoek die webwerf www.nyliefees.co.za en vind die inligting onder kompetisies.

Vir plaaslike sangers is daar ook ’n geleentheid om hul staal op die verhoog te wys. Die Modi Mall Talent Search-kompetisie sal die beste sangers in die Waterberg aanwys en groot pryse en kontant is op die spel. Die wen-ner sal die aand die verhoog vir Black open.

Skoolleerders van alle skole kan hul talente in die uitvoerende kunste ten toon stel tydens die Battle of the Schools-kompetisie. Inskrywings is gratis.
’n Groot verskeidenheid handel- en kosstalletjies sal verder kleur tydens die Nyliefees verskaf.

Die fees word die Sondag afgesluit met ’n sang- en prysdiens en die gospelgroep “VirAnder” sal onder meer optree. Gratis etes sal ná afloop van die Sondagdiens beskikbaar wees.

Kaartjies vir die fees is beskikbaar by www.ticketpros.co.za(.) Die toegangsgeld (kaartjies) is R50 per volwassene, R30 vir skoolleerders en voorskoolse kinders gaan gratis in. Die toegangsfooi laat besoekers toe om aan al die vermaak deel te neem.

Verskeie sakeondernemings het reeds borgskappe aan die Nyliefees toegestaan, maar die feesorganiseerders is op die uitkyk vir nog borgskappe.

Vir borgskappe of meer inligting oor die fees, bel vir Marlene de Villiers by tel. 065 891 6616 of stuur ’n e-pos na marlene@lastinglegacyentertainment.co.za(.)

Hou ook Die Pos weekliks dop vir meer inligting oor die fees, asook vir die volledige feesprogram, of besoek die koerant se webwerf by die adres www.diepos.co.za vir meer inligting oor die Nyliefees.

Exit mobile version