EntertainmentLifestyle

Nyliefees: Hier kom ’n gróót makietie

“Dit is ’n dorpsfees waar alle gemeenskaporganisasies, ook ander skole, betrek word.”

Wanneer ’n gewone skoolreünie in ’n volwaardige dorpsfees ontaard, moet ’n mens weet daar is groot planne.

Dit is presies die geval met die Nyliefees wat die naweek van 14-16 September vir die eerste keer in Modimolle se geskiedenis op die skoolterrein van Hoërskool Nylstroom plaasvind.

Dié fees sal volgens die organiseerders nou nie meer nét ’n groot samekoms van oud-Nylies wees nie, maar ’n geleentheid om alle rolspelers te betrek om dié dorp op die feeskaart te plaas. Daar is ook die vooruitsig dat die fees ’n jaarlikse instelling kan word.

Marlene de Villiers, feeskoördineerder, sê dat die dorp se bekende Druiwefees én die Kaboemfees nie vanjaar plaasgevind het nie en dit het ’n leemte gelaat om ’n “nuwe fees” te organiseer waarby die hele dorp sal baat.

Die oogmerk is om die fees se wins terug te ploeg in gemeenskapsorganisasies in die dorp en omgewing.

Hoewel die idee vir die Nyliefees tussen ’n klomp oud-Nylies ontstaan het, word die fees heelhartig deur die plaaslike hoërskool ondersteun, maar nie gereël nie.

“Dit is ’n dorpsfees waar alle gemeenskaporganisasies, ook ander skole, betrek word.”

Wiets Botes, feesvoorsitter, is baie opgewonde dat die eerste Nyliefees alle verwagtinge sal oortref. Daar word volgens hom hard agter die skerms gewerk om ’n opwindende program aan feesgangers te bied.

’n Talentkompetisie, ’n vrouetee, ’n potjiekoskompetisie en hope kindervermaak is van die aktiwiteite wat op die Vrydag en Saterdag sal plaasvind. In die biertuin sal kunstenaars soos Pieter Koen, Franna Benadé, Juan Boucher, Harrebaard, Juba en Tussen Sterre die feesgangers deurentyd vermaak. En net om ’n eg plaaslike geur by te voeg, sal dié kunstenaars afgewissel word met reüniegroepe se orkeste waaronder die Van de Merwe Trio van 1977/8.

’n Groot verskeidenheid handel- en kosstalletjies sal verdere kleur aan die Nyliefees verleen.

Die fees word die Sondag afgesluit met ’n sang- en prysdiens en die gospelgroep Vir Ander sal onder meer optree. Gratis eetgoed sal ná afloop van die Sondagdiens beskikbaar wees.

Kaartjies vir die fees is beskikbaar by www.ticketpros.co.za(.) Die toegangsgeld (kaartjies) is slegs R50 per volwassene, R30 vir skoolleerders en voorskoolse kinders kan gratis ingaan. Die toegangsfooi laat besoekers toe om aan al die vermaak deel te neem.

Verskeie sakeondernemings het reeds borgskappe aan die Nyliefees toegestaan, maar die feesorganiseerders is op die uitkyk vir nog borgskappe. Vir borgskappe of meer inligting oor die fees, bel vir Marlene de Villiers by tel. 065 891 6616 of stuur ’n e-pos na marlene@lastinglegacyentertainment.co.za(.)

Hou ook Die Pos weekliks dop vir meer inligting oor die fees, asook vir die volledige feesprogram of besoek die koerant se webwerf by www.diepos.co.za(.)

Related Articles

Back to top button