Modimolle se lugruim vol ystervoëls

Hierdie byeenkoms is die grootste in sy soort in die suidelike halfrond met gemiddeld 150 tot 200 vliegtuie wat van regoor die land invlieg.

Inwoners het hul op Saterdag 14 Julie weer vergaap aan die ystervlerke en hul jokkies se vliegvernuf in die lugruim bo Modimolle.

Ons praat hier van die gewilde Taildragger Fly Inn wat jaarliks gehou word.

Die jaarlikse Taildragger Fly Inn wat deur die Nylstroom-vliegklub aangebied word, het op Saterdag 14 Julie by die vliegveld buite Modimolle plaasgevind. Foto’s: Garth Calitz

 

Die Nylstroom-vliegklub het op Saterdag 14 Julie die negende byeenkoms aangebied. Hierdie byeenkoms is die grootste in sy soort in die suidelike halfrond met gemiddeld 150 tot 200 vliegtuie wat van regoor die land ingevlieg het.

 

 

Die byeenkoms het die afgelope paar jaar geweldig gegroei danksy samewerking van lede van die Nylstroom-vliegklub. Die Experimental Aircraft Association (EAA), waarvan Richard Nicholson ’n jarelange lid is, staan ook bankvas agter die vliegklub met hul volgehoue ondersteuning.

 

 

“Die byeenkoms bied jaarliks ’n groot geldelike inspuiting vir Modimolle, asook ’n slim bemarkingsgeleentheid vir die Waterberg-omgewing,” het Mariette Nicholson, een van die organiseerders, gesê.

Alhoewel die byeenkoms bekend staan as die Taildragger Fly Inn, is daar ’n groot verskeidenheid vliegtuie, helikopters en mikroligtevliegtuie.

 

 

Daar is ook jaarliks ’n groot aantal tuisgeboude vliegtuie wat besoek aflê. Die vlieëniers ding mee om gesogte toekennings, waarvan die beste lugmanskap, die oudste stertwiel- en die oudste tuisgeboude vliegtuig van die gewildste is. Daar was ook ’n prys vir die vrou wat haar vliegtuig eerste vir die byeenkoms geland het.

Daar was heerlike kosstalletjies gewees, asook ’n laatmiddagbraai terwyl plaaslike kunstenaar, Jannie du Plessis, die vlieëniers vermaak het met lekker saamsingmusiek.

Exit mobile version