MOTORPOS: Nuwe i20 bly ’n goeie keuse

Die Hyundai i20 moes ’n haarsny kry.

Die Suid-Afrikaanse luikrugmark is uiters mededingend.

Die twee gewildste deelnemers, Ford se Fiesta en die topverkoper Volkswagen Polo, is albei onlangs vernuwe.

Dit het verseker dat die Hyundai i20, wat stewig in die derde plek gevestig is, ook ’n haarsny moes kry. Daar is meer detail in die bakwerk en die skoon, gladde voorkoms van die ou model, het plek gemaak vir ’n besiger, maar manliker voorkoms. Die smal ligte en baie karakterlyne verleen aan die i20 ’n konserwatiewe voorkoms wat ’n mens sommer lus maak vir karwas.

In die binnekant is die raakskerm vergroot terwyl die afwerking puik is. Alles werk maklik, ordentlik en voel stewig aanmekaar gesit. Die Bluetooth-funksie en USB-vermoë is natuurlik standaard terwyl Fluid-modelle se spesifikasie beïndruk met klimaatbeheer, outomatiese ligte en parkeerbystand. Die kragbronne bly die bekende 1.2- en 1.4-petrolenjins wat genoeg krag vir hierdie segment lewer.

Met Hyundai se goeie waarborg, hoogstaande kwaliteit en betroubaarheid saamgevat in aantreklike bakwerk, bly die i20 ’n topdriekeuse.

Exit mobile version